Meer oor TLU SA



Ek bevestig Artikel 2 van TLU SA se Grondwet waarvolgens ek onderneem om my lewe te lei in ooreenstemming met die Bybel as die enigste Woord van God-Drie-Enig en ‘n maatstaf van my Christelike geloof.

Ek is bewus van die waarde en invloed wat die Christelike leer op die vorming van my kulturele erfenis gehad het.

Ek is trots op my beroep as landbouer en die geleentheid wat ek gegun word om God se Skepping te bewerk.

Ek aanvaar in nederigheid die rentmeesterskap van my grond en aanvaar die verantwoordelikheid om die bodem, fauna en flora, en al die beskikbare hulpbronne doeltreffend te bewaar en met respek te bestuur as erfenis vir die nageslagte.

Ek vereenselwig my met TLU SA se standpunt dat die toepassing van vryemarkbeginsels met minimum staatsinmenging in die ekonomie, en gewaarborgde privaat besitreg, die hoeksteen vorm van groei. Dit bied die enigste volhoubare kans vir werkskepping, armoedeverligting en vooruitgang vir Suid-Afrika.

Ek is trots op die unieke identiteit, afkoms en historiese grondslag van TLU SA en sal my beywer om die waardes wat die organisasie gevorm het te respekteer en te beskerm. Ek sal ook ander landbou-organisasies se identiteit respekteer.

Die versterking en bemagtiging van TLU SA is vir my ‘n prioriteit. Ek sal daarna streef om tot voordeel van die landboubedryf en my mede-boere TLU SA se goeie beeld te beskerm en uit te bou.

Ek is trots daarop om as verskaffer van voedsel en vesel ‘n bydrae tot die welstand van die totale bevolking en die land se ekonomie te lewer.

Ek sal my as landbouer beywer vir die ontwikkeling van kommersiële landbou en sodoende bydra tot die erkenning van die sektor as ‘n selfstandige entiteit met ‘n regmatige plek as belangrike komponent in die groter ekonomie.

Ek sal my deur TLU SA beywer om nie slegs in die landbougemeenskap ‘n positiewe bydrae te lewer nie, maar ook om die landbougemeenskap te stabiliseer.

Ek respekteer en onderwerp my aan die reëls en regulasies van TLU SA soos in die Grondwet vervat.

Ek onderneem om my finansiële verpligtinge as lid getrou na te kom.

Ek is trots op TLU SA as die Vesting vir die Boer en onderneem om vanuit dié vesting eenheid met mede-landbouers na te streef in die vervulling van my Godgegewe roeping.


Tree te alle tye in nederigheid en erkentlikheid teenoor ons Skepper op sodat Sy wil en nie ons wil geskied nie.

Openbaar te alle tye en in alle situasies karakter, eerbaarheid en integriteit.

Stel en bevorder te alle tye die boer se saak doelgerig, eerbaar en vreesloos.

Luister te alle tye na mekaar se tersaaklike standpunte en toon begrip daarvoor.

Verskil op ‘n eerbare wyse van mekaar en benader ‘n saak uit verskeie hoeke ten einde die regte besluit te neem.

Hanteer meningsverskille oor besluite na buite sodat dit nie die beeld van TLU SA leiers of TLU SA skaad nie.

Hanteer altyd die saak sonder om die man te speel.

Moet nooit eie eer en belang voor die belange van die boer plaas nie.

Moet landbouverhoë nie gebruik om party-politieke standpunte te bevorder nie.

‘n Streekleier moet altyd in kennis gestel word indien daar ‘n vergadering in die streek gehou word.

Tree altyd verdraagsaam teenoor mekaar op en moet nooit aan iemand anders doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.

Bevorder die geloofwaardigheid van TLU SA, ons affiliasies en leiers deur nie die beeld van ons organisasie en sy leiers te skaad nie.

Bou die beeld van die Suid-Afrikaanse boer uit deur nie deur jou optrede die boer se beeld te skaad nie.

Skep en bevorder vertroue in die landbousektor ten einde die landbousektor se aandeel in ons totale ekonomiese huishouding te versterk en uit te bou.

Glo in die Drie-Enige-God, jou volk en jouself.

TLU SA is ‘n organisasie van ons lede, vir ons lede. Ons belangrikste doelwit is om ons lede en die landboubedryf se belange te bevorder sodat landbou kan leef.
Grondvlak
TLU SA praat vanaf die grondvlak vanuit die boere en daarom bestaan ons struktuur uit geaffilieerde distrikslandbou-unies en boere-unies, met die ondersteuning van ons hoofkantoor en vaste komitees. Sodoende kan ons die ware behoeftes van boere bepaal en daadwerklik oplossings daarvoor vind.
Komitees
Om te verseker dat die behoeftes op ’n ordelike en effektiewe manier hanteer word, het TLU SA die volgende vaste komitees op die been gebring:
Die Nasionale Vaste Komitees van TLU SA se verantwoordelikheid is om standpunte te formuleer, riglyne te verskaf aan lede, en aksies of veldtogte van stapel te stuur om bewusmaking te skep en blootstelling te werf. Die nasionale komitees verteenwoordig die soortgelyke komitees uit streke, distriklandbou-unies (DLU), boere-unies (BU) en boereverenigings (BV).
Die komitees moet op elke vlak na behore funksioneer om die spesifieke behoeftes op daardie vlak aan te pak. Die nasionale komitees kan met behulp van kundiges meer omvattende of nasionale behoeftes hanteer.
Die toekoms
Omdat die kommersiële boer die spilpunt van landbou is, is dit vanselfsprekend dat TLU SA ons bemoei met die totale lewenstog van ‘n kommersiële boer – TLU SA streef daarna om die kommersiële boer in veiligheid volhoubaar op sy/haar grond te hou. Vir die behoud van die landboubedryf en ons lede wil TLU SA die verwagtinge en behoeftes van lede en potensiële lede antisipeer, modelleer, lei en verteenwoordig. Sodoende kan ons ‘n oorlewingsbestel vir die landbougemeenskap realiseer, in stand hou en kommersieel lewensvatbaar maak.
Betrokkenheid
Dit is belangrik dat ons lede ook betrokke raak by bedryfsorganisasies om groter inspraak te lewer, en landbou-koöperasies en agri-besighede ondersteun sodat die landboubedryf volhoubaar kan leef.
Werkswyse
TLU SA onderskryf voedselsekuriteit in Suid-Afrika. Daarom beywer ons ons spesifiek vir die behoud van grondwetlike regte. Verder skep ons wringkrag deur kollektiewe bedinging op plaaslike, nasionale en internasionale vlak tot voordeel van ons lede en verseker daardeur dat daar kos op die tafel vir elke Suid-Afrikaner is.
Christelike beginsels
Die belangrikste grondbeginsel van TLU SA is dat ons organisasie op Christelike waardes gebou is sodat ons dié vesting vir die kommersiële boer sal wees.









