James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Eskom se lasvermindering onregverdige kollektiewe straf

Die afgelope twee maande of wat het Eskom ’n nuwe beleid van “lasvermindering” wat neerkom op kollektiewe straf en dit het ’n negatiewe invloed op die land se landboubedryf.

TLU SA se mnr. Drickus Botha van die Noord-streek en Omgewingsakekomitee sê dat die lasvermindering toegepas word waar daar een of meer partye op ’n spesifieke lyn is wat nie sy/haar kragrekening betaal nie.

“Die hele lyn se krag word dan afgeskakel en waar ons met beurtkrag volgens ’n skedule werk en daarvolgens kan beplan, is die lasvermindering (load reduction) nie so nie. Daar is geen aanduiding van wanneer die elektrisiteitstoevoer weer herstel sal word nie. Dit kom neer op kollektiewe straf en onskuldige partye ly daaronder,” het mnr. Botha gesê.

Dit is nou winter en die vraag na elektrisiteit is meer.

“Boere kan nie meer sonder elektrisiteit boer nie. Daar is ’n groot invloed op saai- en groenteboere wat erg hieronder ly. Dit is ook die begin van die jagseisoen en verskeie jagkampe het nie elektrisiteit nie wat hul diens beïnvloed. Die gasvryheidsbedryf ly ook onder die beleid van Eskom.”

Volgens mnr. Botha is daar maniere om die uitdaging aan te spreek eerder as om almal op die lyn – selfs die wat betaal – te straf.

“Oudit die lyn. Dit is duidelik om te sien waar onwettige aansluitings is en om dan ook te identifiseer wie nie betaal nie. Om boere wat hul rekening betaal en afhanklik vir hul voortbestaan van elektrisiteit is te straf omdat daar onwettige aansluitings is of weens informele nedersettings wat nie betaal nie, is onaanvaarbaar.”

TLU SA is van mening dat Eskom met hierdie toepassing besig is om sy verantwoordelikheid te skuif na die gebruiker en dit is geensins ’n oplossing vir die probleem nie. Verder het dit ook onder TLU SA se aandag gekom dat daar verbruik op lyne is waar daar nie ’n verantwoordelike eienaar aan die verbruikerspunt gekoppel is nie. Dit is kommerwekkend dat hierdie tipe voorvalle opgemerk word wat Eskom se administratiewe aksie om die gebruiker verantwoordelik te hou vir verbruik, onder verdenking plaas. Eskom is besig om sy tekortkominge by die voordeur van die verbruiker te plaas eerder as om ’n daadwerklike poging aan te wend om sy sake in orde te kry.

Mnr. Botha het verder bygevoeg dat TLU SA Noord en Agri Limpopo van plan is om met Eskom in Limpopo te vergader.

“TLU SA het ook op nasionale vlak die Eskom bestuur genader om te praat oor die lasvermindering, maar daar is nog geen terugvoer ontvang nie.” 

Kategorie:

Deel dit:

Eskom se lasvermindering onregverdige kollektiewe straf