TLU SA en Saai – in die lig van hul pas getekende samewerkingsooreenkoms – het ’n veiligheidswerkdokument saamgestel om gemeenskappe te help met veiligheid, want die SAPD is tans nie daartoe in staat om Suid-Afrikaners effektief te beskerm teen misdaad nie.
Die dokument, wat gefokus is op prosedures en voorstelle vir gemeenskapsveiligheid, word aangebied vir veiligheidstrukture in die afwesigheid van die SAPD se Landelike Veiligheidstrategie.
“Dit is duidelik dat ons op onsself aangewese is vir ons veiligheid. In samewerking met Saai wil ons gemeenskappe bemagtig om effektief en proaktief te wees as dit kom by veiligheid,” sê mnr. Henry Geldenhuys, TLU SA President.
“Die doel is om verskeie rolspelers bymekaar te bring en almal die toegang tot dienste te gee. Ons wil gemeenskappe help om misdaad nie net hok te slaan nie, maar ook te voorkom waar moontlik. Ons wil wetsgehoorsame burgers help om saam te werk om wetteloosheid te stop. Dit is beter om saam te werk as elkeen op sy eie.”
Die dokument is net ’n voorstel, want elke gemeenskap is uniek en het sy eie uitdagings.
“Twee boere of twee plase is nie eenders nie en gevolglik sal veiligheid ook nie dieselfde hanteer word nie. Plaasveiligheid is ’n ingesteldheid en met elke denkbare faset van die boerdery verweef. Elke boer moet besluit hoe hy homself en sy gesin se veiligheid hanteer en bestuur. Ons hoop is dat hierdie dokument ’n wegspringblok is vir georganiseerde gemeenskapsveiligheid,” sê dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai.
WENKE VIR VEILIGHEID DIE FEESTYD
- Veiligheid kan nie gedelegeer word, derhalwe is gemeenskapsbetrokkenheid oor die Kersseisoen belangriker as ooit, met die inagneming van die hoë misdaadsyfer is dit onontbeerlik.
- Die hoë voorkoms van kontakmisdaad en gepaardgaande opportunistiese kriminele maak dit noodsaaklik dat boere nie in hierdie tyd vasstaan by hul gewone roetine nie. Verskerp toegangsbeheer tot u eiendom.
- Kontanttransaksies en die bewaring van kontant is taboe.
- Ten einde misdaad vroeg te identifiseer, is die nagaan van produkte en die ongereelde tel van vee noodsaaklik. Ondanks swak diens, moet boere alle misdaad aanmeld.
- Patrollies deur boere en plaaswagte moet nou op wisselende tye plaasvind om sodoende areas te dek en tydig verdagte optrede te identifiseer. Kriminele element het baie tyd vir verkenning en huiswerk doen.
- Veiligheid- en sekuriteitstelsels, radio’s en panieknoppies moet deurlopend getoets word.
- In die lig van die hoë vlakke van beurtkrag, moet boere poog om te verseker dat hierdie hulpmiddels van bystandkrag voorsien word.
- Sorg dat u toegang het tot ’n prokureur wat wel die tyd beskikbaar is, aangesien howe binnekort vir die Kerstyd in reses gaan, baie prokureurs gaan gevolglik nie geredelik beskikbaar wees nie.
- Sou u oor die Kerstyd met vakansie gaan, berg vuurwapens eerder wettiglik elders.
- Onthou slotte kan verwyder word moet liefs nie ammunisie in dieselfde kluis as die vuurwapens stoor nie.
- Deurlopende paraatheid bly die mees belangrike aspek in u veiligheidsmondering.
- Elke plaas kort ’n gebeurlikheidsplan wat ingeoefen moet word sodat elke lid van die gesin presies weet hoe hulle moet optree in geval van ’n aanval. Op ’n praktiese vlak moet daar ook ’n kamer wees waarheen gevlug kan word wanneer ’n aanval dreig. Dit moet toegerus wees met water, noodhulptoerusting en kommunikasiemiddele.
- Wanneer jy na jou veiligheidsituasie kyk, moet jy dink soos ’n skelm. Identifiseer plekke wat ’n moontlike bedreiging is en waar hulle kan inkom. Jy moet dit so moeilik as moontlik vir betreders maak om naby jou huis of in te kom.
- Wees waaksaam en sorg dat jy op elke hoek van jou plaas kom en te alle tye weet wat aangaan. Sorg dat daar goeie samewerking tussen jou en ander boere is en handhaaf goeie verhoudinge met die polisie en ander veiligheidstrukture.








