“Ons neem met afgryse kennis hiervan en voel dat ons boere geteiken word. Die landelike beveiligingsplan moet ʼn absolute prioriteit by die SAPD word. Ons kan nie langer bekostig om sonder ʼn werkende beveiligingsplan voort te gaan nie,” sê Ronnie Schilling, TLU SA streeksbestuurder: Oos en Natal.
Hierdie reaksie kom na nóg ʼn plaasmoord gister in die Badfontein-omgewing naby Lydenburg. Schilling gaan voort: “Hierdie is die soveelste plaasaanval. Boere gaan groot uitgawes aan om hulleself te midde van voortdurende aanslae so goed moontlik te beveilig. Dit is duidelik dat die Staat nie die vermoë het om ʼn veilige omgewing te skep vir die sektor wat die nasie voed nie.”
Volgens Gawie Lötter, TLU SA bestuurder: dienste, is Bheki Cele, minister van polisie, se afwesigheid wanneer dit by plaasaanvalle en -moorde kom sprekend van die prioriteit wat landelike beveiliging inneem. “Sedert die minister in Junie 2022 ʼn taakspan aangestel het wat spesifiek na landelike beveiliging moet kyk, het hy nog nie één keer met hulle vergader nie.”
Syfers toon ʼn groot toename in plaasaanvalle en -moorde sedert 1 Januarie vanjaar en die stilswye van die regering hieroor ontlok vrae, veral omdat dit in teenstelling is met president Cyril Ramaphosa se drastiese reaksie na afloop van die onlangse Maselspoort-geval.
Lötter maak nie ʼn geheim daarvan dat boere ontevrede is nie: “In 2022 is daar 43 lewens in plaasaanvalle verloor. Hoeveel mense wat die land voed moet nóg boet weens die SAPD se onvermoë om hulle werk te doen?”
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, beaam die bogenoemde: “Boere se hoofprioriteit behoort voedselverskaffing en nie sekuriteit te wees nie. Die regering behoort begrip te hê dat hulle stilswye gaan veroorsaak dat gemeenskappe nie ʼn ander keuse het as om hulleself met hulle eie veiligheidsplan te beveilig nie. Die SAPD kan deel vorm van hierdie plan indien hulle in staat is om wel ʼn verskil te maak.”








