James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Kabinetskommeling nie die antwoord op Suid-Afrikaanse uitdagings

“Die antwoord tot Suid-Afrika se uitdagings is beslis nie om die kabinet te vergroot of oneffektiewe ministers rond te skuif nie. Dit maak in werklikheid nie saak wie aangestel of geskuif word, as hulle steeds die ANC se gebrekkige beleid probeer uitvoer nie,” sê Bennie van Zyl hoofbestuurder van TLU SA. “Die totale beleid moet verander word om ‘n verbetering te sien, aangesien dit die afgelope dertig jaar nog geen vooruitgang vir Suid-Afrikaners bewerkstellig het nie.”

 

Soos verwag is Dr. Kgosientso Ramakgopa aangestel as die nuwe Minister van Elektrisiteit. TLU SA verkeer onder geen wanindruk dat die nuwe minister enige verbetering aan die regering se implementeringsvermoë sal maak nie.

 

Eskom se swak prestasie kan grootliks toegeskryf word aan die regering se inmenging en die resultate van sy beleid van kaderontplooiing. Sukses aldaar sou eerder bereik word indien groter afstand vanaf die regering verkry word – privatisering sou steeds die beter koers gewees het. Eskom is nie die enigste krisis nie – al die res van semi-staatsinstellings is op dieselfde bladsy as Eskom wat inderdaad reeds twee ministers gehad het en steeds worstel oor wie die verantwoordelike persoon is.

 

“Gaan daar mettertyd vir al die ander mislukkings ook bykomende ministers geskep word?” vra Van Zyl.

 

Die Minister van Polisie, Bheki Cele bly steeds stewig in sy pos, ten spyte van sy lang lys van mislukkings en ‘n moordsyfer van 84 mense per dag, onder sy misleiding.

 

“Hierdie kabinentskommeling bevestig dat die welstand van Suid-Afrikaners beslis nie vir die regering ‘n prioriteit is nie,” sê Van Zyl. “Dit was bloot ‘n poging om faksies te versterk en so punte in te samel vir die komende verkiesing. Lojaliteit is nou meer as ooit, belangriker as kundigheid vir die ANC.”

Kategorie:

Deel dit:

Kabinetskommeling nie die antwoord op Suid-Afrikaanse uitdagings