TLU SA het met kommer verneem van die omstrede voorval in Verkeerdevlei in die Vrystaat waar twee vroueboere en ‘n man in hegtenis geneem en gewelddadig hanteer is nadat hulle beweerde veediewe wou vastrek.
“Hoewel ons ons nie kan uitlaat oor die besonderhede van die saak nie, is dit vir TLU SA kommerwekkend dat die polisie nie deurentyd konsekwent optree nie. Of die polisie daag glad nie op nie, of hulle gebruik uitermate, onnodige geweld,” sê Bertus van der Westhuizen, die voorsitter van TLU SA in die Vrystaat. “Verder moet die polisie en regering ook ernstig kennis neem van Suid-Afrikaners se frustrasie met misdaad in die land en begrip hê oor hoekom mense soms die reg in eie hande neem.”
In die landbousektor is veediefstal ‘n krisis wat nie behoorlik hanteer word nie. Boere tree uit radeloosheid en moedeloosheid op omdat die polisie misdaad – as gevolg van ‘n tekort aan hulpbronne, onvoldoende opleiding en oorlading, om net die belangrikste oorsake te noem – nie na behore bestry en bekamp nie. Hoewel TLU SA fokus op landbou, is hierdie voorval ‘n baie goeie verteenwoordiging van wat mense regoor die land oor misdaad ervaar.
“Waar laat dit wetsgehoorsame burgers as die staat nie sy verantwoordelikheid nakom nie?” vra Van der Westhuizen.
TLU SA wil wel ‘n beroep op alle boere doen om in enige voorval seker te maak dat hulle nooit alleen optree nie, maar binne die vasgestelde veiligheidstrukture en ook binne die wet.
“Ons wil alle boere vra om aktief betrokke te raak by veiligheidstrukture en sodoende julleself te beskerm,” sê Van der Westhuizen.









