James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA Jongboer-konferensie 2024

Die TLU SA Jongboer konferensie vind vanjaar op 15 Maart plaas, weereens by die ikoniese Voortrekkermonument. Die tema is ‘Boer vir die toekoms.’

Die konferensie bied vir jongboere in Suid-Afrika die geleentheid om saam met mede jongboere te kuier en by mekaar kers op te steek oor maniere om hulle boerdery te groei. Daar gaan gepraat word oor die gemeenskaplike uitdagings wat boere daagliks ervaar. Sprekers in verskillende spesialisvelde gaan hul kennis met jongboere deel en hul motiveer om die volgende stap in hul boerdery te neem. Dit is die ideale geleentheid vir jongboere om te leer hoe om te boer vir die toekoms.

“Konferensiegangers kan uitsien na insiggewende gesprekke oor die toekoms van boer. Irmarie Taljaard van PIC gaan gesels oor seleksietegnologie vir vee. Christian Zimelka van Zedworks gaan praat oor kunsmatige intelligensie, of AI soos meeste dit ken, en wat dit vir die toekoms van boerdery inhou,” vertel Clemens Senekal, Voorsitter van die TLU SA Jongboer komitee.

Registrasie sluit 3 Maart 2024 en kan gedoen word op TLU SA se webwerf onder die Jongboer afdeling, of stuur ‘n epos aan Mariëtte Minnaar by sekretaresse@tlu.co.za.

Die jaarlikse TLU SA Jongboer van die Jaar-kompetisie het ook al afgeskop. Inskrywings sluit op 21 Junie 2024 en plaasbesoeke sal tussen 15 – 19 Julie 2024 plaasvind. Die wenner, naaswenner en derde plek sal later vanjaar tydens die jaarlike TLU SA Kongres bekend gemaak word.

“Dis altyd goed om jouself te kan meet teen ander boere. Dis goed om te leer en ‘n bietjie goeie kompetisie is ‘n goeie ding”, het saaiboer Nicky van der Linde gesê nadat hy verlede jaar as TLU SA se Jongboer van die Jaar aangewys is.

Een van Van der Linde sy pryse was ‘n jaar se gebruik van ‘n dubbelkajuit 4×4 GWM bakkie, geborg deur die Hatfield Motor Groep. “Sy padhouvermoë is baie goed, hy sleep baie lekker, jou waentjie bly stil agter die bakkie, en sy 4×4 vermoë het my baie verbaas. Die GWM bakkie staan glad nie vir enige snaakse plekke terug nie,” sê van der Linde.

Pryse vir die 2024 wenner, danksy verskeie borge, sal tydens die Jongboer-konferensie op 15 Maart 2024 bekend gemaak word. Navrae rakende die TLU SA Jongboer van die Jaar 2024 kompetisie kan gerig word aan Mariëtte Minnaar by sekretaresse@tlu.co.za of Clemens Senekal by clemens@picrsa.co.za

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA Jongboer-konferensie 2024