Francois Oosthuizen (Fotokrediet: Verskaf)
TLU SA verklaar dat plaasmoorde nie langer as misdaad beskou kan word nie, maar terreur en sabotasie.
“Wanneer ‘n boer en sy werkers, of enige onskuldige burger met AK47’s en R4- of R5-aanvalsgewere gejag en koelbloedig geskiet word, besef ons dat dit nie gewone misdaad is nie, dit is ‘n terroriste-aanval en ‘n daad van sabotasie teen die land,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
“Hierdie insidente is nie maar net ʼn statistiek wat toevallig bygereken kan word terwyl die land se politici in die parlement hul besig hou met eierdanse vir gesagsposisies nie,” sê Van Zyl. “Kriminele en verhoorafwagtendes knou mekaar af om in die hoogste huis van die land mee te ding vir ʼn sitplek daar waar hierdie onreg teen burgers tot op hede misken is en ʼn alledaagse geword het.”
Die staat het ‘n grondwetlike verantwoordelikheid om die veiligheid van sy inwoners te verseker, gefinansier deur belastingbetalings.
Die onlangse aanval op die boer Francois Oosthuizen in KwaZulu-Natal, waar hy en twee van sy werkers in hul voertuig met aanvalsgewere aangeval is, kan nie langer bloot net as misdaad beskou word nie. TLU SA vra: Is dit nie ʼn oorlog nie? Boere, hul gesinne en werkers kan nie meer hul pligte uitvoer om die grond te bewerk en voedsel te produseer terwyl hy voortdurend oor sy skouer moet kyk nie, welwetende dat hy enige oomblik soos talle van sy voorgangers net nog ʼn slagoffer van terroriste aanval of sabotasie kan wees. Selfverdediging is nie eers meer ʼn opsie nie want wetsgehoorsame burgers van hierdie land word gyselaar gehou deur misdadigers, en die SAPD se optrede versterk soms die misdadigers se hande en misdadigers wéét dat hul moontlik nooit skuldig bevind gaan word nie.
Sedert 2019 het die regering nié daarin geslaag om die Nasionale Landelike Veiligheidstrategie doeltreffend te implementeer nie. Die ernstige besering van Oosthuizen, soos talle ander, mag nie net as nog ‘n misdaadstatistiek afgemaak word nie. Hier is ‘n voedselprodusent uit aksie geneem met ernstige finansiële verliese, om nie eers te verwys na die trauma en hospitalisasie wat sy hele lewe permanent verander het nie. Dit alles terwyl die staat afwesig bly.
Elke kommersiële boer se bydrae tot die land se voedselvoorraad is krities. As ‘n boer geëlimineer word, word die voedselvoorraad van ongeveer 2 000 mense bedreig. Enige verantwoordelike regering sal weet dat kommersiële boere ‘n onmisbare bate is en ten alle koste beskerm moet word. Kos op die tafel is sekerlik die grootste strategiese bate van enige land, en sonder dit sal die land tot stilstand knars.
Kiesers het duidelik aangedui dat hulle ontevrede is met die huidige regering, en veral die swak veiligheidstoestande. ʼn Nuwe regering van nasionale eenheid sal dringend moet toetree, want dit is onaanvaarbaar dat veiligheidstoestande waaronder Suid-Afrika, en spesifiek ons plaasboere en hul werkers, gebuk gaan nie.
Ons benodig dringend ʼn effektiewe en verantwoordelike nuwe minister van die SAPD wat die politieke wil sal toon om sy taak ernstig op te neem, die SAPD sal suiwer van korrupte elemente, ook die misdadigers in eie geledere, te verseker dat die SAPD, deur effektiewe werk, nou wel sy burgerlike verantwoordelikheid na kom deur ʼn veilige staat te skep waar burgers kan woon en werk en dat dit nie hierdie minister se werk is om ʼn ideologie te dien of misdaad met sagte handjies te vertroetel nie.
Terwyl hierdie verklaring fokus op plaasaanvalle, erken ons dat misdaad regoor die land buite beheer is en niemand ontsien nie. Die politieke wil om misdaad aan te spreek, is grootliks afwesig. Die regering se grondwetlike verantwoordelikheid om misdaadvoorkoming en -bekamping te verseker, was die afgelope 30 jaar grootliks afwesig. Suid-Afrika se inwoners moet meer doelgerig voortaan konsekwent hul stem laat hoor oor die swak misdaadbestuur van die afgelope drie dekades en dit aan die kaak te stel. Stop terreur en sabotasie en moet dit nie versag na misdaad nie. Hierdie is baie erger.





