Op Woensdag 6 November het TLU SA ’n plaasboer en lid van dié landbouorganisasie bygestaan om ’n kriminele saak van waterbesoedeling by die SAPD Sheepmoor aanhangig te maak.
Braam Moodie, ‘n boer in die omgewing, sê hy het op 31 Oktober twee munisipale werknemers van die Msukaligwa-munisipaliteit op heterdaad betrap terwyl hulle rou riool in die Sheepmoor-omgewing gestort het.
“Hierdie onwettige praktyk, wat ernstige omgewings- en gesondheidsgevare vir omliggende gemeenskappe en die plaaslike omgewing inhou, kom volgens gemeenskapslede al vir jare voor, maar tot nou toe kon die skuldiges nie op heterdaad betrap word nie,” sê Ronnie Schilling, streekbestuurder van die Oosstreek. “Hierdie keer was hulle egter gevang.”
TLU SA het ‘n kriminele saak met die nodige bewyse voorberei, en Schilling en Henry Geldenhuys, president van TLU SA, het Moodie na die plaaslike SAPD vergesel om die saak te registreer.
Hierdie onwettige waterbesoedelingsaksie het ’n direkte en ernstige invloed op die Sandspruit, die Morgenstonddam en die Jerichodam, wat kritieke waterbronne is vir duisende inwoners in die omgewing.
“Waterbesoedeling van hierdie aard is nie net onwettig nie, maar toon ’n skokkende minagting vir die gesondheid en welsyn van ons mense en ons landbouhulpbronne,” sê Schilling. “Ons sal nie langer toelaat dat ons gemeenskappe en omgewing so in gevaar gestel word nie, en ons verwag van owerhede om ernstige stappe te neem om geregtigheid te laat geskied.”
TLU SA bly toegewyd aan die beskerming van ons boere, gemeenskappe, en natuurlike hulpbronne en sal voortgaan om enige vorm van omgewingsmisbruik en onwettige praktyke aan die kaak te stel en te bestry.



