James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Bewaring van ons hulpbronne

 

God het in Sy skeppingsplan orde en struktuur gevestig en die mens die verantwoordelikheid gegee om daaroor toesig te hou, met die bekende kultuuropdrag om te bewerk en te bewaak. Hy openbaar Homself op wonderbaarlike wyse aan ons, nie net deur Sy Woord, die Bybel nie, maar ook deur die skoonheid en majesteit van Sy skepping wat ons daagliks in die natuur beleef.

Hierdie orde en struktuur is in alles sigbaar, van die kleinste sel van bestaan tot die volmaakte inpas van elke dier en plant, waar elkeen in uitsonderlike balans sy rol vervul, selfs as voedsel vir ander. Dit vorm inderdaad ’n volmaakte voedselketting. Die omvang en grootheid hiervan gaan die mens se begrip te bowe, en ons kan maar net eerlik erken dat ons God se groot genade baie meer behoort te koester, veral omdat Hy ons waardig geag het om oor al hierdie dinge toesig te hou.

Ons kan met groot dankbaarheid erken dat die natuur oor ’n verstommende vermoë beskik om telkens na herstel en balans te streef, selfs ten spyte van die mens wat, eerder as om te bewaar soos ons opdrag is, dikwels misbruik, besoedel en oorbenut.

Die kultuuropdrag kan uit verskillende hoeke beskou word. Neem byvoorbeeld die benutting van die aarde se opbrengs as voedsel vir die mens: dit vereis noodwendig dat voedselproduksiepraktyke volhoubaar moet wees. Ons moet dit só toepas dat toekomstige geslagte steeds die nodige hulpbronne kan gebruik om kos te produseer. Tegelykertyd moet dit ook winsgewend wees, anders kan volhoubare produksie nie verseker word nie. Dit is inderdaad ’n fyn balans wat gehandhaaf moet word. Ons as landbouers besef dat ons in werklikheid die grond net by ons nageslag leen, en dus as rentmeesters daarvoor moet sorg.

In ons ekonomiese lewe het die mens ook bewaringsgebiede tot stand gebring, sodat die wonder van die natuur met al sy fasette so goed moontlik beskerm kan word. Veral in die wildbedryf het privaat inisiatief daartoe gelei dat bewaringsaksies vir verskeie spesies vandag op ’n veel groter skaal plaasvind as wat die staat op geproklameerde gebiede regkry. Tog is daar toenemende kritiek uit verskeie oorde oor die vraag of die staat se bewaringspogings in die huidige tydsgewrig werklik die natuurlike hulpbronne doeltreffend bestuur. Misdaad soos wilddiefstal en die stroop van renosters bly ’n reuse-uitdaging, maar ewe kommerwekkend is oorbeweiding weens swak bestuursbesluite, asook die besoedeling van waterbronne – kernkwessies wat dringende vrae laat ontstaan.

Die grootste bewaringspogings van ons natuurlike hulpbronne vind vandag in die privaatsektor plaas. Elke boer besef dat volhoubare benutting en verantwoordelike bestuur ’n noodsaaklike vereiste is om môre steeds te kan boer. Daarom word die jongste navorsing tydens boeredae, in praatjies en deur artikels in die media voortdurend aan produsente bekend gestel. Só word boere aangemoedig om deur eie navorsing en toepassing voortdurend die beste praktyke na te streef.

Die bewaring van ons hulpbronne is nie slegs die landbouer se taak en verantwoordelikheid nie – dit rus inderdaad op elke inwoner van ons land. Wanneer ’n boer verkeerde praktyke toepas, het dit skadelike en onaanvaarbare gevolge vir die grond. Ons sien dit veral in die kommunale gebiede waar oorbeweiding omvangryk voorkom. Die gevolglike skade, soos erosie in sy vele vorme, rig reeds groot verwoesting aan en kan nog vinniger ernstige gevolge inhou indien dit nie aangespreek word nie.

Ons moet elkeen onsself eerlik die vraag afvra: hoe leef ek die kultuuropdrag uit? Ons het net een aarde, en dit is ons plig om dit so verantwoordelik moontlik te bewaar en te bestuur. Maar daar is ook ander aspekte waar ons hand in eie boesem moet steek, dit gaan uiteindelik oor ons nalatenskap aan die volgende geslagte.

Wat is die fondament waarop ons elk ons kultuuropdrag bou? Net soos ons met trots terugkyk na voorgeslagte wat met geloof en hardwerkendheid geleenthede geskep het in Suid-Afrika vir dié wat die verantwoordelikheid aanvaar het om in die ekonomie betrokke te wees, moet ons onsself afvra: wat sal ons nageslag eendag van ons vertel? In watter mate het ons die aardse hulpbronne bewaar tydens ons benuttingsaksies is ’n uiters belangrike vraag. Daarby kom ook die noodsaak om rekenskap te gee oor hoe ons opgestaan het vir Bybelse waardes in die uitbou van ons kultuur. Op die einde bly dit ons grootste taak hier op aarde: om te leef tot eer van God. Mag ons bewaringsaksies in al sy fasette reg gefokus wees vir die toekoms, ten spyte van die skade wat reeds op soveel terreine aangerig is.

Hierdie meningstuk het op 19 September in Pretoria FM se Nuusweek verskyn.

Kategorie:

Deel dit:

Bewaring van ons hulpbronne

Windscreen Masters

Enige lid/vriend wat deur Windscreen Master hul ruit laat vervang, kan dit op die plek van sy keuse laat doen. Windscreen Master hanteer ook die skakeling met die lid/vriend se makelaar/versekeraar asook die registrasie van die eis indien van toepassing.

Verco Energy

Verco Energy lewer goedkoper diesel aan TLU SA affiliasies/lede/vriende in sekere afleweringsgebiede.

Timac Agro

Spesiale aanbiedinge om kunsmis teen beter pryse aan te koop, slegs vir TLU SA-lede.

Relevante artikels

NBM

TLU SA se ooreenkoms met NBM bepbaal dat TLU SA affilliasies/lede/vriende afslag ontvang op verskeie versekeringsprodukte

Hendrik de Swardt

082 852 8039

Philippie de Beer

083 230 4583

Relevante artikels

LWO

Die LWO ondersteun boere as werkgewers in alle aspekte rakende arbeidsregwetgewing.

MarketVest

MarketVest maak gebruik van gevestigde, gekontrateerde groenkaart tegniese kontrakteurs regoor die land wat vinnig hulp kan verleen met aanbevelings en installasies. Vir elke suksesvolle afgehandelde installasie wat deur TLU SA na MarketVest verwys word, ontvang TLU SA ʼn verwysingfooi.

Firearms Guardian

Firearms Guardian is ’n unieke korttermynversekeringspakket vir vuurwapeneienaars. Dit bied dekking teen regskostes en aanspreeklikheidseise, wat spruit uit selfverdediging, skiet-ongelukke, strafregterlike vervolging, jagtogte wat skeefloop, sportskiet-ongelukke, en vele meer.

Finco Finance

Finco Finance ondersteun TLU SA-lede met finansiering by handelsbanke.

Pitkos

Die Pitkos is TLU SA se nuusbrief slegs vir lede. Hierin gee ons vir lede inligting oor die aksies waarby ons betrokke is, standpunte wat ons inneem, spesiale aanbiedinge wat vir lede beding is, opkomende geleenthede en waardevolle inligting soos aankondigings in die Staatskoerant wat op landbou betrekking het.