James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Krisis in padinfrastruktuur: Namakwa, Karoo Hoogland en Hantam

TLU SA Noord-Kaap neem met groot erns kennis van inligting wat deur verskeie distrikte aan ons oorgedra is rakende die toenemend verswakte toestand van dienslewering, spesifiek met betrekking tot provinsiale padinfrastruktuur in Namakwa, die Karoo Hoogland en Hantam.

TLU SA Noord-Kaap spreek ernstige kommer uit oor die huidige bestuur, instandhouding en funksionele vermoë van die Noord-Kaapse Departement van Paaie en Openbare Werke binne hierdie distrikte. Inwoners, landbouprodusente en besighede ervaar reeds die direkte sowel as indirekte gevolge van die voortgesette agteruitgang van die padnetwerke.

Volgens inligting wat aan gemeenskappe gekommunikeer is, is die volledige provinsiale “yellow fleet”, insluitend skrapers, stootskrapers en rollers, buite werking gestel weens ’n gebrek aan die vereiste sertifisering by departementele operateurs. Die onmiddellike en ernstige gevolg hiervan is dat geen roetine-instandhouding of herstelwerk tans plaasvind nie, sonder enige duidelike of geopenbaarde tydlyn vir hervatting.

In die Karoo Hoogland- en Hantam-gebiede is daar, buiten twee ingehuurde operateurs, geen gesertifiseerde personeel beskikbaar om die masjinerie te bedryf nie. Tot op hede is geen omvattende plan van aksie of tydgebonde herstelstrategie aan belanghebbendes voorgehou om hierdie kritieke kapasiteitstekort aan te spreek nie.

Die departement het voorts aangedui dat die gebrek aan behoorlike sertifisering moontlik bygedra het tot ’n hoë frekwensie van meganiese wanfunksies van masjinerie gedurende die jaar. Dit wek ernstige vrae oor interne beheermaatreëls, toesig, risikobestuur en die nakoming van wetlike en administratiewe vereistes, aangesien die masjinerie reeds vir ’n geruime tyd in gebruik was sonder bevestigde operateurssertifisering.

Die situasie word verder vererger deur ’n duidelike leierskapsvakuum binne die betrokke streekseenheid. Die kontrak van die Hoof van Paaie vir Namakwa, Hantam en Karoo Hoogland het in Augustus verstryk sonder dat ’n opvolger aangestel is, terwyl die Adjunkhoof die departement aan die einde van Desember verlaat het. Die eenheid funksioneer tans sonder vaste leierskap en met onvoldoende operateurs, maar bly steeds verantwoordelik vir ’n omvangryke en koste-intensiewe masjinerievloot.

TLU SA Noord-Kaap is diep bekommerd dat die voortgesette agteruitgang van provinsiale paaie reeds beduidende ekonomiese skade veroorsaak, veral binne die landbou- en plaaslike sakegemeenskappe. Gemeenskappe word toenemend geïsoleer, logistieke kettings word ontwrig, en die veiligheid van padgebruikers word ernstig in gedrang gebring. Daar bestaan toenemende kommer oor moontlike aanspreeklikheid vir padongelukke, beserings en sterftes wat direk aan swak padtoestande toegeskryf kan word.

TLU SA Noord-Kaap neem kennis daarvan dat belanghebbendes dit oorweeg om die Suid-Afrikaanse Regering en die Parlement formeel te nader. Verdere regstappe ingevolge Artikels 33, 195 en 237 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, tesame met toepaslike wetgewing soos die Promotion of Administrative Justice Act (PAJA), sal oorweeg word indien dringende ingryping, deursigtigheid en duidelike aanspreeklikheid nie spoedig volg nie.

TLU SA Noord-Kaap doen ’n dringende beroep op die Noord-Kaapse Provinsiale Regering en die Departement van Paaie en Openbare Werke om onmiddellike en deursigtige kommunikasie met gemeenskappe en belanghebbendes te verseker, noodsaaklike tydelike instandhouding sonder verwyl te implementeer, en ’n duidelik omskrewe, tydgebonde plan voor te lê om die sertifisering van personeel, operasionele kapasiteit en volhoubare leierskap binne die departement te herstel.

TLU SA Noord-Kaap bly verbind tot konstruktiewe betrokkenheid, maar sal nie nalaat om in belang van landbouprodusente, besighede en gemeenskappe op te tree waar dienslewering en grondwetlike verpligtinge versuim word nie.

Kategorie:

Deel dit:

Krisis in padinfrastruktuur: Namakwa, Karoo Hoogland en Hantam