Suid-Afrika se groot graanopbrengste vertel slegs een deel van die verhaal. Agter die goeie oes staan produsente wat die volgende plantseisoen met laer kommoditeitspryse, duurder insette en toenemende finansiële risiko moet aanpak.
Volgens Graan SA was mieliepryse in Januarie 2026 ongeveer 22% laer as ’n jaar tevore, terwyl die totale insetkoste vir mielieproduksie met sowat 19% gestyg het. In baie gevalle het plaasinkomste met byna die helfte gedaal. Meer as 80% van graanproduksie-insette word boonop ingevoer en teen invoerpariteit geprys.
“’n Groot oes is nie noodwendig ’n winsgewende oes nie. Die produsent moet saad, kunsmis, diesel, chemiese middels, arbeid, herstelwerk, versekering en finansiering vooruit betaal, maar het geen beheer oor die weer, uiteindelike opbrengs of markprys nie,” sê Bertus van der Westhuizen, voorsitter van TLU SA Vrystaat.
Die dieselprysverhoging wat op 5 Augustus in werking getree het, het die druk verder verskerp. Die groothandelprys van diesel het, afhangend van die swaelinhoud, met tussen R1,23 en R1,38 per liter gestyg. Vir ’n produsent wat 50 000 liter gebruik, verteenwoordig dié verhoging alleen ’n bykomende bruto uitgawe van ongeveer R61 700 tot R69 200; nog voordat enige verdere verandering in kunsmis-, saad-, chemiese of finansieringskoste in berekening gebring word.
Die sterk produksie wat Suid-Afrika die afgelope seisoen beleef het, moet ook nie bloot aan verbeterde kultivars toegeskryf word nie. Dit is in ’n groot mate die gevolg van boere wat beter en meer presies boer. Bemesting, gewasbeskerming, plantestand, grondbewerking en ander produksiebesluite word al hoe meer tydig, wetenskaplik en noukeurig bestuur.
“Ons produsente het hul doeltreffendheid verbeter, maar daar is ’n grens aan hoeveel kostedruk en markrisiko deur beter bestuur geabsorbeer kan word. Wanneer die marge verdwyn, kan selfs ’n uitstekende boer nie onbepaald aanhou plant nie,” sê Van der Westhuizen.
TLU SA vra nie dat die regering die normale ondernemingsrisiko van boere moet oorneem of algemene finansiële hulp aan produsente moet toestaan nie. Sulke hulp kan maklik aan politieke of transformasievoorwaardes gekoppel word wat produsente se onafhanklikheid en eiendomsreg onder druk plaas.
Die organisasie doen eerder ’n beroep op die minister van landbou, Willie Aucamp, om sy invloed te gebruik om ’n meer mededingende en funksionele produksieomgewing te help skep.
TLU SA vra onder meer dat:
- die regering sy steun gee aan ’n deursigtige, billike en bewysgebaseerde stelsel vir die berekening van JSE-liggingsdifferensiale;
- die departemente van landbou en handel, nywerheid en mededinging saamwerk om graanuitvoere na veral markte in Afrika uit te brei en handels- en logistieke struikelblokke te verminder; en
- die regering, in samewerking met die departement van minerale en petroleumhulpbronne, regulatoriese sekerheid oor die vermenging van biobrandstof versnel om private investering in etanol- en biobrandstofproduksie moontlik te maak.
Die huidige dispuut oor sojaboon-liggingsdifferensiale wys hoe groot die finansiële uitwerking van ’n tegniese markmeganisme kan wees. Graan SA bereken dat die verskil tussen die meervoudige en enkelverwysingspuntmetodes gemiddeld sowat R220 per ton kan beloop, met ’n moontlike totale waardeverskil van ongeveer R696 miljoen oor die betrokke volumes en silopunte.
Die ontwikkeling van ’n plaaslike biobrandstofbedryf kan terselfdertyd nuwe binnelandse vraag na surplusgraan skep, waarde toevoeg, investering in verwerking aanmoedig en werksgeleenthede in landelike gebiede ondersteun.
“Die waarskuwing is nie dat Suid-Afrika môre sonder kos gaan wees nie. Die waarskuwing is dat produksievermoë oor tyd afgebreek word wanneer produsente minder plant, grond verhuur, bates verkoop of die bedryf verlaat omdat die risiko nie meer finansieel geregverdig kan word nie,” sê Van der Westhuizen.
“Voedselsekerheid kan nie eers beskerm word wanneer daar ’n tekort ontstaan nie. Dit moet beskerm word terwyl die boer nog bereid en in staat is om te plant.”
Voedselsekerheid begin nie op die winkelrak nie. Dit begin by die plaashek.









