Elke kamp, elke verbetering en elke dier op Solms Boerdery vertel ’n verhaal van harde werk, opoffering en die vasberadenheid om uit min iets betekenisvol op te bou.
Marissa Solms van Utrecht in KwaZulu-Natal het nie ’n gevestigde familieboerdery geërf nie. Sy en haar gesin het hul boerdery oor die afgelope sowat tien jaar self opgebou. Vandag is sy een van die topdrie finaliste in TLU SA se Jongboer van die Jaar-kompetisie. Die wenner word op 2 September tydens TLU SA se Kongresdinee bekendgemaak.
Solms Boerdery fokus hoofsaaklik op Merino-skape, met besondere aandag aan kuddebestuur, reproduksie, lamoorlewing en die verbetering van wol- en vleisgehalte. Die boerdery het ook ’n beesvertakking en word steeds stelselmatig en volhoubaar uitgebou.
Solms is prakties by feitlik elke deel van die onderneming betrokke; van die versorging en voeding van die diere tot administrasie, rekordhouding, beplanning en die daaglikse bestuur van die plaas.
“Ek is ’n vrou, ma, eggenoot en boer. Vir my is boerdery nie net ’n beroep nie, maar ’n leefwyse,” sê sy.
Nie geërf nie, maar self opgebou
Solms se pad in die landbou het begin met ’n liefde vir diere en die plaaslewe, asook die behoefte om iets van hul eie te bou. Hulle het klein begin en die boerdery jaar ná jaar uitgebrei en verbeter.
Die grootste vooruitgang kan volgens haar egter nie bloot aan die groei in die aantal diere gemeet word nie. Dit lê eerder daarin dat hulle geleer het om beter met die beskikbare hulpbronne te boer.
“Ons doel is nie om die grootste boerdery te hê nie. Ons wil eerder ’n gesonde, produktiewe en volhoubare kudde hê waar kwaliteit belangriker as hoeveelheid is.”
Die boerdery se fokus het met verloop van tyd verskuif na beter reproduksie, doelgerigte voeding, hoër lamoorlewing, streng seleksie en die verbetering van wolgehalte. Elke dier word individueel beoordeel om te verstaan waarom sekere praktyke werk en waar aanpassings nodig is.
Solms sê sy is veral trots op die ontwikkeling van hul skaapkudde en die verbetering wat hulle van jaar tot jaar kan waarneem.
“Ons het nie met ’n gevestigde familieboerdery begin nie. Elke kamp, elke verbetering, elke dier en elke stap vorentoe verteenwoordig harde werk en baie opofferings.”
Beter bestuur deur beter inligting
Die opbou van ’n boerdery uit eie middele, te midde van stygende insetkoste en onvoorspelbare inkomste, bly een van hul grootste uitdagings.
Droogte, voerpryse, dieregesondheid, klimaatsomstandighede en markpryse is nie altyd binne ’n boer se beheer nie. Daarom probeer Solms om nie eers op probleme te reageer wanneer dit ontstaan nie, maar om deur begrotings, voeding, voorkomende maatreëls en noukeurige rekordhouding vooruit te beplan.
“Ek het geleer dat dinge in boerdery gaan verkeerd loop. Jy moet daaruit leer, aanpas en weer probeer.”
Vir Solms hoef tegnologie nie ingewikkeld of duur te wees om waarde toe te voeg nie. Die boerdery gebruik rekordhouding en data om die reproduksie, voeding en prestasie van individuele diere te monitor.
Voedingsprogramme word volgens die verskillende produksiefases van ooie en lammers beplan, terwyl veldbenutting, kuddegesondheid, lamoorlewing en seleksie voortdurend geëvalueer word.
Haar benadering is eenvoudig: “As ons iets kan meet, kan ons dit beter bestuur.”
’n Gesinspoging
Hoewel Solms prakties en bestuursmatig sterk by die boerdery betrokke is, beklemtoon sy dat ’n suksesvolle boerdery nooit die werk van slegs een persoon is nie.
Haar man behartig onder meer die finansiële en boekhoudkundige aspekte van die onderneming, terwyl hulle mekaar se vaardighede in die bestuur van die boerdery aanvul. Hul voorman en drie werknemers speel daagliks ’n belangrike rol in die praktiese uitvoering van die werk.
Haar kinders is ook deel van die plaaslewe en word van kleins af aan die oorsprong van voedsel, die waarde van verantwoordelikheid en die belangrikheid van geduld blootgestel.
“Vir my is dit besonders dat hulle kan grootword waar hulle sien dat kos nie net uit ’n winkel kom nie en dat sukses harde werk, verantwoordelikheid en geduld verg.”
Eers ’n boer, maar ook ’n voorbeeld vir vroue
Om as vrou onder die drie finaliste aangewys te word, het vir Solms besondere betekenis, hoewel sy haarself eerstens bloot as ’n boer beskou.
Sy het al situasies beleef waarin mense aanvaar het dat haar man die boer is of dat sy nie die persoon is wat belangrike boerderybesluite neem nie. In plaas daarvan om haar vermoë met woorde te probeer bewys, laat sy haar kennis, werk en resultate namens haar praat.
“Wanneer jy jou diere ken, jou syfers verstaan en bereid is om self die werk te doen, verander mense se persepsies vanself. Ek wil nie beter as ’n man boer omdat ek ’n vrou is nie. Ek wil eenvoudig ’n goeie boer wees.”
Volgens Solms bring baie vroue waardevolle sterkpunte soos aandag aan detail, waarneming, versorging en organisasie na die landboubedryf. Hierdie vaardighede is veral belangrik in ’n veeboerdery, waar klein veranderinge in ’n dier se gedrag ’n vroeë aanduiding van ’n groter probleem kan wees.
Vroue moet egter dikwels verskeie rolle gelyktydig vervul. Hulle is boere en besluitnemers, maar ook ma’s, eggenote en dikwels verantwoordelik vir ’n groot deel van die huishoudelike en administratiewe werk.
“Vroue hoef nie te probeer om mans te wees om suksesvol in landbou te wees nie. Ons moet ons eie sterkpunte gebruik en gemaklik wees daarmee dat ons dinge soms anders aanpak.”
Erkenning vir elke opoffering
Solms het vir die kompetisie ingeskryf om haarself en die boerdery te meet, nuwe kennis op te doen en krities te bepaal waar hulle kan verbeter. Sy wou ook wys dat ’n mens nie ’n groot, gevestigde boerdery hoef te erf om ’n plek in die landbou te verdien nie.
Om nou onder die drie finaliste te wees, is volgens haar erkenning vir haar hele gesin, hul werknemers en almal wat oor die jare saam met hulle gewerk en in die boerdery geglo het.
Sou sy op 2 September as TLU SA se Jongboer van die Jaar aangewys word, sal die titel bevestig dat dit moontlik is om uit min iets op te bou wanneer ’n mens bereid is om hard te werk, te leer en aan te hou.
Vir haar kinders wil sy daarmee ’n eenvoudige voorbeeld stel: ’n Mens hoef nie met alles te begin om iets besonders te bereik nie.
Solms hoop ook dat haar plek onder die finaliste ander vroue sal aanmoedig om hul plek in die landboubedryf in te neem.
“As my plek onder die finaliste net een jong meisie of vrou laat dink: ‘Miskien kan ek dit ook doen,’ beteken dit vir my baie.”
Haar visie vir die volgende dekade is ‘n beter boerdery; ’n gesonde en produktiewe skaapkudde met uitstekende reproduksie, hoë lamoorlewing en wol van ’n goeie gehalte. Sy wil ook voortgaan om infrastruktuur en veldbestuur te verbeter en data te gebruik om meer presiese besluite te neem.
“Ek boer omdat ek glo dat ons geroep is om dit wat aan ons toevertrou is, met liefde en verantwoordelikheid te versorg, en om iets beter agter te laat as wat ons ontvang het.”









