James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA vereer media se bydrae en beklemtoon ekonomiese uitnemendheid

TLU SA het op Maandag, 16 November 2026, sy jaarlikse Sonneblomtoekennings en mediafunksie aangebied waartydens erkenning gegee is aan joernaliste en media-instellings wat ‘n belangrike bydrae tot landboukommunikasie lewer.

Die geleentheid het ook die geleentheid gebied om oor die ekonomiese toekoms van Suid-Afrika en die rol van landbou te besin. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het in sy toespraak gefokus op die tema Ideologie teenoor ekonomiese uitnemendheid.

Hy het beklemtoon dat ekonomiese groei nie deur ideologiese uitgangspunte alleen bewerkstellig kan word nie, maar dat beleid op ekonomiese realiteite en volhoubare uitkomste gegrond moet wees.

“’n Land kan nie volhoubaar welvaart verdeel indien daar nie voortdurend nuwe welvaart geskep word nie. Die doel behoort te wees om meer mense ekonomies aktief en produktief te maak, eerder as om die bestaande produktiewe grondslag voortdurend verder te belas en te verswak,” sê Van Zyl.

Hy het verder gewys op die belang van eiendomsreg, beleggingsvertroue, beleidsvoorspelbaarheid en veiligheid as voorvereistes vir ekonomiese groei en ‘n volhoubare landbousektor.
Henry Geldenhuys, president van TLU SA, het die media en borge vir hul betrokkenheid en ondersteuning bedank.

Hy het beklemtoon dat die media ‘n onmisbare rol speel om landbou se werklikhede aan die publiek oor te dra.“Ons versoek aan die media is eenvoudig: Help ons om landbou se werklikhede eerlik, gebalanseerd en met begrip aan die publiek oor te dra. Ons het een duidelike doel voor oë, naamlik om landbou te laat leef en te verseker dat dit ‘n volhoubare ekonomiese aktiwiteit bly,” sê Geldenhuys.

Hy het ook beklemtoon dat voedselproduksie nie vanself gebeur nie, maar die resultaat is van boere, werknemers, ondernemings en ‘n hele netwerk van mense wat daagliks hard werk.

“Agter elke produk op ons winkelrakke is daar ‘n boer, ‘n plaas, ‘n onderneming, werknemers en ‘n hele netwerk van mense wat elke dag hard werk om dit moontlik te maak.”
Sonneblomtoekennings 2026

Die volgende wenners is tydens die geleentheid met Sonneblomtoekennings vereer:

  • Beste bydrae in Klankmedia: Bulletin
  • Beste bydrae in Beeldmedia: GROOTplaas (GROOTFM 90.5)
  • Beste bydrae in Geskrewe Media: Marizka Coetzer
  • Beste bydrae in Multimedia: Pretoria FM

TLU SA wens al die wenners geluk en bedank hulle vir hul bydrae tot landboujoernalistiek.

Erkenning is ook gegee aan die borge en vennote wat deur hul ondersteuning en betrokkenheid help om TLU SA se werk te versterk. Die organisasie het ook sy leierskorps en personeel vir hul toewyding bedank.

Kommersiële landbou speel ‘n belangrike rol in Suid-Afrika se ekonomie deur voedselproduksie, werkskepping, uitvoere en landelike ontwikkeling. TLU SA glo dat die media ‘n belangrike vennoot bly om hierdie bydrae, asook die uitdagings waarmee boere te kampe het, onder die publiek se aandag te bring.

“Suid-Afrika moet ophou om mislukking te bestuur en begin om sukses moontlik te maak,” sluit Van Zyl af.

TLU SA bedank alle media-instellings, joernaliste, borge en vennote wat deel was van die geleentheid en saamwerk aan ‘n sterker en volhoubare landboubedryf.

Laai die mediapakkie hier af.

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA vereer media se bydrae en beklemtoon ekonomiese uitnemendheid