James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Leemtes in veediefstal-statistieke

Daar is groot leemtes en beslis meer vrae as antwoorde as daar na die veediefstal-syfers van 2017 tot Februarie 2022 gekyk word.

Die syfers is saamgestel deur PMG. Volgens dié syfers – April 2021-Februarie 2022 – is meer as 25 000 sake aangemeld en ’n skamele 7800 opgelos.  KwaZulu-Natal (6687) en Oos-Kaap (5533) het die meeste sake, met die Wes-Kaap (699) die minste.

Mnr. Bertus van der Westhuizen, TLU SA Streekvoorsitter: Vrystaat, het gesê ofskoon die syfers – vanaf 2017 – oor sake aangemeld en opgelos ’n afname in sake wys, dit waarskynlik meer as net die voor die handliggende beteken.

“Eerstens soek ons nie net saak-syfers nie. Dit is nodig om te weet hoeveel vee met elke saak aangemeld gesteel is en die geraamde geldwaardes is ook belangrik vir die geheel prent. Indien die sake wel ’n afname toon – wat ek in alle eerlikheid betwyfel – dan dui dit daarop dat daar nou groter getalle vee op een slag gesteel word. En sou ek reg wees met my afleiding, brand die gevaarligte helder en duidelik omrede dit op groter sindikaat bedrywighede wys,” het Mnr. Van der Westhuizen verduidelik.

“Die polisie statistieke soos tans daar uitsien, het groot leemtes volgens my. Ek doen ’n dringende beroep op boere om elke saak aan te meld. Dié belangrikheid van sake aanmeld kan nie oor beklemtoon word nie. Tans kom dit voor asof die afname in sake op suksesvolle misdaadbestryding wys, wat nie noodwendig die waarheid is nie. Die waarheid is meer in die lyn van gesteelde vee getalle wat toeneem, maar in minder voorvalle soos vroeër genoem. Ek vermoed sindikate buit reeds hierdie stelsel uit, want hulle gaan hul diefstalle so begin bestuur dat statistieke nie die ware toedrag van sake aandui nie,” het mnr. Van der Westhuizen gewaarsku.

“Die verdere probleem met die huidige stelsel is dat veediefstaleenhede mannekrag, toerusting en voertuie ontvang soos deur die statistieke aangedui. Dit veroorsaak groot leemtes in eenhede, so erg dat daar eenhede sonder voertuie sit en gevolglik nie hul werk na behore kan doen nie. Dit is van kardinale belang dat aanpassings gemaak moet word aan die manier hoe die polisiebestuur sy stasie evaluerings doen, want papier is geduldig.”

Die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum en die RPO (Rooivleis Produsente Organisasie) het ook redelik onlangs syfers bekend gestel. Hulle syfers het die finansiële kant van sake ook gewys. Volgens hul statistieke beloop bees-diefstal ongeveer R184 miljoen, skape R43 miljoen en bokke R31 miljoen. In totaal is daar ’n verlies van R258 miljoen in veediefstal vir landbou.

Dit raak al hoe duideliker dat veediefstal ’n groot, georganiseerde bedryf met groot geld op die spel, is,” het Mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder, gesê.

“Van die algemene raad vir boere, is om ekstra maatreëls in plek te stel om diefstalle te voorkom. Hulle moet – en dit is van kardinale belang – by hul plaaslike veiligheidstrukture inskakel. Sou hulle sake aanmeld moet hulle deurlopend met die ondersoekbeampte kontak hou tot die saak deur die hof gevoer word.”

PRAKTIESE RAAD

  • Meld alle veediefstal aan en volg gereeld op.
  • Sluit aan by jou plaaslike VIS (veediefstal inligting sentrum).
  • Woon maandelikse Landelike Veiligheidvergaderings met die SAPD by en sorg dat veediefstal op die sakelys is.
  • Plaas veediefstal as staande punt op alle SAPD vergaderings insluitend Landelike Prioriteit vergadering.
  • Sorg dat jou eie dokumente in plek is wanneer diere vervoer word (Art 6 en 8).
  • Sorg dat brandmerke/tatoeëring reg gedoen word.
  • Wees katvoet by veilings.

TLU SA het ’n veldtog teen Veediefstal in 2021 begin. Vir meer inligting besoek https://tluveldtogte.co.za/veediefstal/

Kategorie:

Deel dit:

Leemtes in veediefstal-statistieke