James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA hou virtuele staptog teen Plaasaanvalle en -moorde

TLU SA nooi Suid-Afrikaners om op16 en 17 Junie virtueel saam te stap teen plaasaanvalle en -moorde.

“Suid-Afrika se boere, hulle gesinne en werkers word al hoe meer en al hoe meer brutaal aangeval en vermoor. Suid-Afrikaners besef nie altyd die groot impak wat hierdie aanvalle op landbou as ’n geheel en uiteindelik voedselproduksie, het nie,” het TLU SA President, mnr. Henry Geldenhuys gesê.

Met die staptog hoop TLU SA om genoeg aandag op die misdade te fokus sodat die regering gedwing word om meer as net leë woorde oor die erns van die situasie te spreek. Plaasaanvalle moet as prioriteitsmisdaad dieselfde aandag en aksie geniet as ander ernstige misdade.

“Ons besef dat geen veldtog of protesoptog op sy eie misdaad kan stop nie, maar dit is belangrik om só bewusmaking oor die probleem te skep, hier en internasionaal. TLU SA weet dat dit in die hande van die gemeenskap lê om misdaad te bekamp aangesien daar by die regering die politieke wil ontbreek om die situasie te beheer.”

Die plan is om binne 24 uur virtueel 6065km te stap. Elke kilometer verteenwoordig een van die plaasaanvalle wat sedert 1990 gesinne en werkers se lewens uitmekaar geruk het.

Mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder, het bygevoeg: “Ons wil graag hê dat alle Suid-Afrikaners wat keelvol is vir misdaad, saam met ons aan hierdie protesoptog deelneem.”

Sedert 1990 is 2182 plaasmoorde aangemeld en meer as 6000 plaasaanvalle. (TLU SA werk streng volgens saaknommers om statistieke te bepaal.)

“As jy die staptog ook wil ondersteun en wys dat die veiligheid van boere vir jou belangrik is, registreer en laat jou naam op die lys van ondersteuners verskyn. Jy sal dan ’n e-pos ontvang met nog inligting, maar, intussen kan jy solank op jou sosiale media platforms deel dat jy die projek ondersteun met die hutsmerke: #plaaslewens #plaasstap #tlusa,” het mnr. Van Zyl verduidelik.

“As jy egter meer betrokke wil wees en jou ondersteuning op ’n aktiewe manier wil wys, hier is nog ’n paar opsies om deel te wees van die veldtog:

As jy wel ter ondersteuning wil stap of hardloop – 6km of 6065 tree – neem foto’s en deel dit met ons op Facebook of Instagram met die veldtog se hutsmerke: #plaaslewens #plaasstap #tlusa

“Indien dit nie vir jou – om watter rede ook al – moontlik is om te stap of hardloop nie, kan jy ook jou stapskoene aantrek, ’n foto neem en deel en dan só jou ondersteuning wys.”

Hier is die skakel om te registreer en deel van die staptog te wees https://stapsaam.co.za en as jy wil sien hoe lyk die roete besoek https://stapsaam.co.za/stap-saam/.

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA hou virtuele staptog teen Plaasaanvalle en -moorde