TLU SA het homself na die beste van sy wete probeer op hoogte stel van die geval in Komatipoort waar ‘n aantal swartes op ‘n plaas opgedaag het om die boer te beveel om die grond te verlaat.
Die boer is geen lid van TLU SA nie.
Die betrokke plaas is skynbaar reeds as deel van die grondhervormingsproses aan ’n nuwe eienaar oorgedra nadat daar ’n eis op die plaas was. Die nuwe eienaar het blykbaar met die boer ’n kontrak aangegaan dat dié nog vir ’n sekere tyd die plaas sou huur en voortgaan met sy boerderybedrywighede.
’n Geskil het skynbaar ontstaan nadat die nuwe eienaar nie ten volle vertroud was met die inhoud van die huurkontrak nie, en wou die huurder summier van die plaas verwyder.
TLU SA is in hierdie geval tevrede dat die polisie inderdaad opgetree het en die saak ontlont het, en dat hulle nie in ’n Zimbabwe-styl toegegee of selfs meegedoen het aan die aggressiewe skare se optrede nie. TLU SA is egter diep bekommerd oor die vlakke van aggressie en arrogansie wat deur die skare vertoon is, en dit het wel aan ’n Zimbabwe gebeure laat herinner. Hier was net van ’n skynbare misverstand sprake, en dit het reeds die gemoedere byna onhanteerbaar opgejaag. Weer eens was dit die polisie wat die situasie korrek hanteer het.
Hierdie situasie het weer bewys hoe noodsaaklik dit is dat boere deel moet word van georganiseerde landbou. Waar boere in strukture verenig is, kan sodanige optrede vroegtydig hanteer word. Daarom doen TLU SA weer ’n beroep op die onverbonde en onbetrokke boere om by die landbou-unie aan te sluit.








