Die waarde van eiendomme word volgens wet elke vier jaar deur munisipale inspekteurs bepaal en op die waardasierol geplaas. Jou dienste- en eiendomstariewe word volgens hierdie waarde bepaal.
TLU SA verneem dat hierdie waardasies die afgelope ruk uitermatig en onredelik verhoog word, sodat daar meer geld in korrupte regeringsamptenare se hande kan land.
Die dreigement van onteiening sonder vergoeding het ook ‘n implikasie op waardasierolle. Eiendomme wat ‘n nulwaarde het – volgens voorstelle oor onteiening sonder vergoeding op die tafel – behoort ‘n laer waarde te hê.
Aangesien daar ook nie meer gewillige kopers is nie, is dit ook onmoontlik om ‘n verkoopprys te bepaal en sodoende kan die markwaarde ook nie bepaal word nie.
Die verhoogde waardasie van eiendomme beteken ook ʼn verhoogde grondbelasting, wat ‘n bykomende las op eienaars plaas. Dit terwyl grondeienaars in die landelike gebiede geen of min dienste van disfunksionele munisipaliteite of rade ontvang.
Eienaars MOET hulle vergewis van die waarde van hulle eiendomme op munisipale waardasierolle en voor die sperdatum (dertig dae na dit beskikbaar is) appèl aanteken indien dit nie akkuraat is nie.
TLU SA is ook besig met ‘n opname oor onakkurate waardasierolle en moedig enige grondeienaar aan om onredelike stygings by ons te rapporteer.
TLU SA kan jou bystaan om die waardasierolle na te gaan en om daarteen appèl aan te teken. Vul jou besonderhede op die vorm hieronder in en ons sal jou kontak.