Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier
2021 Terugvoer en kykweer Woensdag | 15 Desember | 2021

Met net meer as twee weke in 2021 oor moet mens behoorlik asemskep as jy wil terugkyk na die jaar wat was en soms het jy ’n kykweer nodig om seker te maak wat jy beleef het, was realiteit.

Vir TLU SA staan die ANC se beleidsomgewing kop en skouers uit bo alle aangeleenthede van die afgelope jaar. Dit het impak op alle aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing en omgewing.

Die ANC-beleidsomgewing dek onder andere minimumlone, OSV, SEB, kader-ontplooiing, ens.

“Ons land is reeds in rommelstatus weens al die onsekerheid; weens die ANC se beleidsomgewing. ’n Groot deel van ons realiteit is gekoppel aan die beleidsomgewing – ’n onrealistiese een – wat nie vertroue inboesem nie,” sê Mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder.

’n Vinnige terugblik na die staatsrede in Februarie vanjaar. Daar was vier fokuspunte geïdentifiseer: die pandemie oorkom; versnelling van ekonomiese groei; implementering van ekonomiese hervorming vir die skepping van werksgeleenthede en aanmoediging van inklusiewe ekonomiese groei; stryd teen korrupsie en versterking van die staat.

Vandag se realiteit rakende ekonomiese groei en werkskepping is ’n donker prentjie. Die werkloosheidsyfer volgens die definisie van mense wat nog kan werk, maar nie meer vir werk soek nie – staan tans op ’n verbysterende 44.4%. Ekonomiese groei is nie naastenby waar dit moet wees nie.

“Die ANC-beleidsomgewing hou Suid-Afrikaanse entrepreneurs terug en verhoed hulle om volwaardig in die ekonomie van ons land betrokke te raak. Die regering kan dus nie groei aankondig nie,” sê Mnr. Van Zyl.

President Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede gesê: “Die regering is daartoe verbind om ons ekonomie te groei en werksgeleenthede te skep. Die privaatsektor het egter ’n verantwoordelikheid om werkskepping te stimuleer deur beide sy beleid en direkte werkskeppende geleenthede.”

Mnr. Van Zyl se reaksie is: “Die privaatsektor kan net ekonomiese groei stimuleer as hy toegelaat word om dit eerstens in ’n veilige omgewing, waar die misdaad bekamp word te doen. En dan ’n beleidsomgewing het waar die privaatsektor graag aktief betrokke sal wil wees. Die regering faal egter met albei. Die regering vra een ding, maar doen dan presies wat die teenoorgestelde te weeg gaan bring. Gegewe dit wat die ANC-regering op die tafel sit, gaan die privaatsektor nie aktief betrokke raak nie.”

Wat die stryd teen korrupsie betref, is daar vordering met die Zondo-kommissie wat vroeg in Januarie 2022 sy verslag aan die President moet lewer.

“Wat gaan die Zondo-kommissie se verslag tafel toe bring? Hulle sal behoorlik moet skoonmaak anders is al sy geloofwaardigheid daarmee heen. Oor korrupsie bly ons bekommerd.”

Vir TLU SA was die Onteiening sonder vergoeding hoog op die agenda. Die voorgestelde wysiging op Artikel 25 van Suid-Afrika se Grondwet ten opsigte van die onteiening van eiendom sonder vergoeding te verander, is onlangs afgestem. Ofskoon dit ’n goeie uitslag was, is dit egter beslis nie die einde van OSV nie. Die proses is beslis nie verby nie.

“Daar is dié wat vasbeslote is om dit op een of ander manier deur te voer. Ons as TLU SA is natuurlik dankbaar vir almal wat daarteen gestem het, maar ons kan nie nou terugsit en van die aangeleentheid vergeet nie.”

Die onteieningswet is ook nog in proses en hiervoor is net ’n volstrekte meerderheid nodig. Daar sal beslis weer pogings wees om dit deur te voer. Die rooiligte van gevaar flikker dus steeds.

“Ons het ook met groot sorg van die Landbou-meesterplan kennis geneem. TLU SA is bekommerd oor die groot onkunde rakende die ANC se transformasie-agenda waar hy probeer om die hele ekonomiese stelsel te transformeer van privaatbesitreg en ’n markgerigte ekonomie na ’n gesentraliseerde sosialisme en kommunisme. Binne die ANC se transformasie-agenda verpak hy verskeie aspekte soos OSV, SEB, gelyke indiensneming, grondonteiening, regstellende aksie en dié een wat my erg bekommer, die skool curriculum. Daar is goeie punte in die meesterplan, maar dit is onderhewig aan die ANC se transformasie-agenda. Suid-Afrika moet besef dat ons die transformasie-agenda van die ANC moet teenwerk.”

Nog ’n realiteit vir Suid-Afrikaners is dat die land op die drumpel van die vierde vlaag van die Covid-19 pandemie staan. Die jaar het begin met die tweede vlaag en dit was opgevolg met ’n derde vlaag wat vir baie die finale strooi was wat die kameel se rug gebreek het.

“Regulerende maatreëls en inperkings het ons ekonomie seergemaak. Sommige se krane is toegedraai, maar nuwe strome het ook ontstaan. Tans sit ons met ’n hergestruktureerde ekonomiese proses. Die feit van die saak is ons moet tog kyk om die ekonomie so groot en wyd as moontlik oop te maak en vanuit dié vermoë skep ons ekonomiese aktiwiteite. Daar is geen twyfel nie dat Covid-19 ’n baie ernstige saak is, maar ons ekonomie kan nie langer ly nie. Ons vra vir ’n beter balans in hantering van Covid-19,” het Mnr. Van Zyl gesê.

Vir TLU SA as organisasie is gebeure soos die suksesvolle Noord-Kaap toer, KwaZulu-Natal se erkenning aan polisielede en Oos-streek se skietdag om net paar te noem groot hoogtepunte.

“Dit is belangrike gebeure waar ons mense bymekaar kom en oor verskeie aspekte maar ook landbousake gesels. Dit is wat ons mense bind. En dit is uiters noodsaaklik. Dit is goed om te sien wat ons kan doen as ons saamwerk. Ons gaan al hoe meer om die regte redes moet opstaan en uitstaan vir dit wat vir ons belangrik is.”