Julius Malema se dreigemente om te moor, is onaanvaarbaar en bedreig die stabiliteit van die land, sê TLU SA. Suid-Afrika, en spesifiek die regering, staan nou voor een van die strengste toetse vir geloofwaardigheid en vrede in hul hantering van die situasie.
Tydens die EFF Wes-Kaap se derde Provinsiale Volksvergadering het die leier van die EFF aan party-afgevaardigdes wat die konferensie bygewoon het, gesê: “Jy moet nooit bang wees om dood te maak nie. ’n Rewolusie vereis dat daar op een of ander stadium moord moet wees, want moord is deel van ’n revolusionêre daad.”
Die president van TLU SA, mnr Henry Geldenhuys, het vandag gesê dit is heeltemal onaanvaarbaar dat ‘n persoon blatant en in die openbaar ‘n aanval teen die burgers van ons land kan loods. “Die feit dat hy ‘n sittende parlementslid is moet as verswarende omstandighede geld en die president, mnr Ramaphosa moet standpunt inneem en optree teen hierdie openlike dreigemente”, sê mnr Geldenhuys.
“Die staat moet enige moontlike middel gebruik om gedrag en opmerkings soos hierdie te beëindig.” Dit is onmoontlik om stabiliteit in Suid-Afrika te skep wanneer die regering slegs ‘n persverklaring vrystel in reaksie op hierdie gedrag. Dit is nie genoeg nie. Mnr Malema het homself herhaaldelik bewys as een van die belangrikste destabiliserende faktore vir wet en orde, sowel as verhoudings in die land.
“Ongegronde stellings soos hierdie is heeltemal onaanvaarbaar vir landbou in Suid-Afrika,” sê mnr Geldenhuys. “Dit is kommerwekkend dat hulle ‘n klimaat skep waar jy ‘n verskil kan besleg deur fisieke geweld te gebruik. Die aanhitsing van geweld deur mnr Malema dra by tot die kultuur van geweld in Suid-Afrika.
TLU SA gaan ‘n formele klag teen Malema by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) instel vir die aanhitsing van geweld en haatspraak.








