James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Staatsrede – bo blink, maar onder stink

“Hoekom moet ons jou storietjies hierdie keer glo, meneer die president?” vra Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Dis nou amper 30 jaar waar die ANC mooi beloftes maak, maar net eenvoudig nie die vermoë het om dit tot uitvoer te bring nie. Wat gaan dié jaar anders wees?”

President Ramaphosa het vanaand sy 2023-staatsrede gelewer terwyl groot dele van Suid-Afrika in die donker gesit het tydens dié R8 miljoen-geleentheid. Die chaos wat die staatsrede voorafgegaan het, het vele Suid-Afrikaners hulle koppe in skaamte laat sak terwyl beleggers hierdie prentjie van regoor die wêreld moes aanskou. ʼn Nasionale ramptoestand is amptelik verklaar.

Van Zyl verwys na die groot klem wat op die energiekrisis gelê is met beurtkrag wat op ʼn einde gebring moet word en ʼn minister van elektrisiteit wat dit saam met nuutaangestelde “vaardige persone” moet bewerkstellig. “As deel van die proses sal praktiese oplossings moontlik gemaak word vir ononderbroke kragvoorsiening waar daar dan ʼn kans is om lande wat onder besproeiing is van beurtkrag vry te stel. Die enigste werklike positiewe punt is dat individue ʼn hupstoot gegee sal word om sonpanele te installeer en ʼn belastingvoordeel daarvoor sal ontvang. TLU SA hou die vordering hieroor met groot afwagting dop.”

Werkloosheid het gereeld onder die loep gekom. “Ons het ʼn paar keer gehoor dat werkloosheid sal afneem wanneer die ekonomie groei. Werk gaan onder meer geskep word deur geld op nuwe tegnologie en nuwe industrieë te spandeer en duisende meer gegradueerdes die werksmag in te stuur waar werknemers nou gevra word om ervaring as voorvereiste vir aanstellings af te skaf. In dieselfde asem word maatskaplike toelae egter nie net langer ingestel nie, maar ook verhoog. Hiermee moedig die regering eerder werkloosheid aan, eerder as om dit te laat afneem,” sê Van Zyl.

Ramaphosa het na die belangrikheid van watervoorsiening verwys en dat die aansoeke vir waterlisensies na 90 dae verkort sal word. “Die belofte is om in infrastruktuur soos waterprojekte te belê om water regoor die land vir almal beskikbaar te stel met die klem op landelike gebiede en gemeenskappe. TLU SA verwelkom die feit dat daar aandag aan watervoorsiening gegee wil word en hoop dat boere landswyd hierby sal baat.”

“Beloftes vir hoëspoedinternet vir almal, verbeterde spoorweë, hawens en selfs die klerebedryf gaan blykbaar aandag kry. Dit is egter uiters teleurstellend dat landbou en voedselsekerheid as sulks glad nie as prioriteit uitgelig is nie. Ons het wel gehoor dat beurtkrag ʼn nadelige uitwerking op landbou het, dat kleinboere – wat slegs sowat 3% van voedselvoorsiening uitmaak – ʼn goeie hupstoot sal kry, en dat sogenaamde ‘tradisionele’ boere gehelp gaan word om dagga te verbou om op só ʼn wyse werk te skep. Geen melding is ook van plaasaanvalle gemaak nie, wat weereens bewys dat dit geensins as ʼn probleem gesien word nie,” sê Van Zyl.

“Ons het ook gehoor dat Suid-Afrika ʼn beleidsomgewing moet skep waar beleggers se vertroue gewen moet word en entrepreneurs goeie besigheid moet doen.” Van Zyl sê ook dat enigeen met verstand teen dié tyd besef dat dit nie in die staat se broek sit om enige van die beloftes wat hulle maak na behore te vervul nie.

Van Zyl wys verder daarop dat die koers wat vanaand aangedui is deur die kabinet uitgevoer moet word. “ʼn Kabinet met ministers wat nie hulle portefeuljes na behore kan bestuur nie. Hoe kan ministers wat nie tot nou toe probleme kon oplos nie, nou skielik nuwe beloftes nakom? Tot op hede het ons nog nooit by kabinetslede ervaar dat hulle die verantwoordelikheid van aanspreeklikheid aanvaar nie. Indien dit nie gaan gebeur nie, bly die kabinet deel van die probleem. Ons weet dat vinnige, doeltreffende en uitvoerbare besluite nie deel is van die ANC se DNA nie. ʼn Mooi staatsrede vol blink beloftes sonder ʼn kundige en doeltreffende kabinet sal Suid-Afrika maar net verder op ʼn stink glybaan na mislukkings op vele terreine laat voortploeter.”

Kategorie:

Deel dit:

Staatsrede – bo blink, maar onder stink