“Die regering sê sy vermoë om in nuwe infrastruktuur te belê, was weens swak groei, groeiende uitgawedruk en die finansiële ondersteuning aan staatsmaatskappye. Dit is eerder ʼn geval van Adam sê dis Eva, en Eva sê dis die slang. Die ANC was die hoofoorsaak van al hierdie probleme weens swak bestuur,” sê Bennie van Zyl hoofbestuurder van TLU SA.
Minister Godongwana het vroeër vanmiddag die 2023-begrotingsrede voorgelê waar daar gefokus is op die regering se beplande ekonomiese groei in die nuwe finansiële jaar op grond van drie pilare, naamlik ʼn stabiele makro-ekonomiese raamwerk, die implementering van sleutel-hervormings, veral in energie en vervoer, en verbeterde regeringskapasiteit.
TLU SA verwelkom die beplande besteding van sowat R400 miljard aan infrastruktuur oor die volgende drie jaar. “Ons sal regtig wil sien hoe die herstel van paaie asook watervoorsiening aandag kry. Verder sal ons ook graag wil sien dat die R227.3 miljoen wat vir veiligheid en sekuriteit begroot is ook aangewend sal word vir die beveiliging van plase. Dit is net jammer dat daar nêrens enigiets oor plaasaanvalle genoem word nie, en ongelukkig wys dit waar die prioriteit rakende hierdie saak lê.”
“Boere moet al hoe meer aan diesel spandeer om die produksieproses aan die gang te hou ter wille van die land se voedselsekerheid. Daar word steeds niks gedoen om hiermee te help nie. Hoe verwag die regering dat daar kos op die tafels en rakke moet bly as hulle nie ʼn vinger lig om te help nie? Dit terwyl die COVID-19 maatskaplike verligtingstoelaag met nog ʼn jaar verleng word,” sê Van Zyl.
Die minister het onderneem dat die Nasionale Energie Krisiskomitee die intensiteit van kragonderbrekings sal verlaag. Hierop reageer Van Zyl soos volg: “Boere kry nie hul gewasse besproei nie. Ons soek steeds ʼn oplossing hiervoor. Hoe hou die feit dat die regering R254 miljard van Eskom se skuldverpligtinge oorneem ʼn voordeel vir landbou in, en vir die mense wat vir die land se voedselproduksie afhanklik is?”
TLU SA is van mening dat die regeringskapasiteit slegs met behulp van die land se inwoners versterk kan word, maar dat die huidige regstellende aksiebeleid enige positiewe wending kniehalter. “Die resultate van die regering se beleid van kaderontplooiing veroorsaak ook dat die kundigheid en die betroubaarheid om te verseker dat geld sinvol en korrek spandeer word, ongelukkig erg bevraagteken word. Wat saak maak is die implementering daarvan, maar die vertroue daarin is ongelukkig gebreek.”
Van Zyl sê dat dit goed is dat daar gekyk word om individue die voordeel van sonpaneelinstallasies te gee, maar besighede, wat plase insluit, behoort ook ʼn voordeel hiervoor te kry. “Daar sal letterlik derduisende rande hieraan spandeer moet word net om in produksie te bly tot voordeel van almal in die land, maar die voordele word net tot individue beperk. ʼn Begroting is veronderstel om hoop te gee vir ʼn beter toekoms vir almal, maar dit lyk asof landbou steeds die onderspit delf.”








