Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling is bereid om die onderhandelinge oor die Landboumeesterplan te heropen om ‘n meer inklusiewe en geloofwaardige dokument te ontwikkel.
In ‘n gesprek tussen Direkteur-generaal Mooketsa Ramasodi en sy bestuurspan in die departement, en organisasies en sektore wat by die aanvanklike ontwikkeling van ‘n meesterplan uitgesluit was, is ‘n weg ondersoek om versoening tussen die staat se meesterplan en ‘n alternatiewe boergedrewe meesterplan te bewerkstellig.
Saai, TLU SA, WRSA, NEASA, verbruikersverenigings en die LWO het drie fundamentele foutlyne in die staat se meesterplan belig.
- Die gebrek aan inklusiwiteit veral omdat soveel landbouorganisasies soos Saai en TLU SA, asook werkgewersorganisasies, verbruikers- en bedryfsorganisasies soos WRSA uitgesluit was;
- Die aandrang van primêre produsente dat die meesterplan vir landbou ‘n boergesentreerde plan moet wees, terwyl die staat se plan meer op landboubesighede gefokus is; en
- Die misplaaste klem op die transformasie-agenda wat winsgewendheid, volhoubaarheid en doeltreffendheid ondergeskik stel.
WRSA wat wildboere op meer as 20miljoen hektaar verteenwoordig, en die mees kompeterende bedryf in Suid-Afrikaanse landbou bestuur, het op elkeen van die wetenskaplike pilare van die staat se plan uitgewys watter wesenlike bydrae wildboerdery tot die doelwitte van die meesterplan kan lewer as dit meer inklusief was en op ekonomiese fondasies gevestig kon word.
NEASA het daarop gewys dat dit entrepreneurs as werkgewers is wat werk skep en dat dit dus geen sin maak om vakbonde by die ontwikkeling van ‘n meesterplan te betrek, maar werkgewers uit te sluit nie.
Die sentrale rol van verbruikers as markkrag in landbouwaardekettings is sterk beklemtoon en die DG het onderneem om aan hulle dienooreenkomstig erkenning te gee en te betrek.
Die departement het die versekering gegee dat die bestaande meesterplan nie in beton gegiet is nie en dat daar ‘n meer inklusiewe proses vir die beginsels in die alternatiewe meesterplan voorsiening gemaak kan word.
Die groep organisasies het met die departement ooreengekom dat landbou te belangrik is vir Suid-Afrika om met die ekonomiese volhoubaarheid van boerderye te dobbel of verder toe te laat dat nuwe toetreders op hulle plase bly misluk. Die groep wil ook hulle dank teenoor Direkteur-generaal Ramasodi uitspreek om ‘n meer inklusiewe meesterplan daar te stel.








