James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Petisie oor belastingwysigings vir private veiligheidsuitgawes by parlement ingedien

TLU SA het pas ‘n petisie by die parlement ingedien sodat Suid-Afrikaners ‘n persoonlike belastingvoordeel kan ontvang vir uitgawes om hulleself te beveilig. Met misdaad wat onomkeerbaar deel van die alledaagse lewe is en die regering se absolute onvermoë om dit te verhoed, het Suid-Afrikaners geen ander uitweg as om die werk van die regering en polisie oor te neem nie.

“Besighede kan lankal reeds aanspraak maak op so ‘n belastingvoordeel, maar misdaad raak nie net ons besighede nie. Dit raak verbruikers, die mense aan wie ons lede kos voorsien, en daarom raak dit TLU SA ook,” sê Bennie van Zyl hoofbestuurder van TLU SA. “Ons kan nie meer op die regering wag om misdaad te bekamp nie, want dit gaan nie gebeur nie; die stygende misdaadvlakke bewys dit aan ons. Die misdaadsituasie is onhoudbaar en ons kan nie onbeperk voortgaan om dubbeld vir ons veiligheid op te dok nie.”

TLU SA wil met hierdie petisie genoeg wringkrag genereer om die regering te oortuig dat daar ‘n aanpassing aan die inkomstebelastingwet gemaak moet word om te verseker dat mense veilig op hulle eie private eiendom is. ‘n Meer stabiele misdaadsituasie sal bydra om die ekonomiese situasie in die land te stabiliseer.

“Ons bedank graag die VF+ wat die petisie namens TLU SA by die parlement indien, soos wat die parlementêre reëls bepaal,” sê Van Zyl.

In terme van reël 349 van die Nasionale Vergadering moet die Speaker die petisie nou vir oorweging na die relevante parlementêre komitee verwys. TLU SA sal die proses noukeurig dophou.

 

Ondersteun die petisie by hierdie skakel.

Kategorie:

Deel dit:

Petisie oor belastingwysigings vir private veiligheidsuitgawes by parlement ingedien