Dit is tyd dat die Nasionale Vergadering kennis neem van en optree teen eensydige uitsprake van die Menseregtekommissie (MRK) wat nie die regte van alle Suid-Afrikaners beskerm nie. TLU SA het daarom, in lig van die onlangse omkering van ‘n uitspraak van die MRK oor Julius Malema se haatspraak in 2016 deur die hooggeregshof, ‘n skrywe gerig aan die speaker van die Parlement, President Cyril Ramaphosa en die voorsitter van die MRK, Professor Bongani Majola.
TLU SA hoop dat hierdie uitspraak ook die baan sal weg om sake wat die MRK nie as haatspraak wou ondersoek nie, hersien sal word. Die MRK het in Mei 2023 aan TLU SA gesê dat Cosatu se uitlatings dat boere moordenaars en verkragters is slegs kwetsend is en nie neerkom op ‘n menseregteskending nie.
“Ons verwelkom die Johannesburgse hooggeregshof se uitspraak oor die MRK se bevinding rakende Malema se haatspraak,” sê Bennie van Zyl hoofbestuurder van TLU SA. “Ons bedank ook die FW de Klerk-stigting en AfriForum wat die saak gedryf het.”
“Die MRK het in verskeie uitsprake, veral waar dit wit Afrikaners en boere aangaan, gewys dat die liggaam eerder ‘n spesifieke ideologie as die menseregte van alle Suid-Afrikaners wil bevorder. Daarom verwelkom ons hierdie uitspraak wat ons sien as die begin van die ontmaskering van die MRK.”
In die skrywe het TLU SA versoek dat die uitsprake van die MRK wat Suid-Afrikaners as onregverdig beskou aan ʼn tribunaal voorgelê word vir hersiening. TLU SA beveel verder aan dat die liggaam se kommissarisse afgedank word en die terugbetaal van salarisse oorweeg word, want die MRK het hulle mandaat óf misverstaan óf misbruik.
“In terme van Malema sal ons graag wil sien dat die haatdraende uitsprake wat nou op haatspraak neerkom hom ‘n misdaadrekord besorg sodat hy nie meer as ‘n parlementslid kan dien nie,” sê Van Zyl. “Julius Malema doen, sedert hy die eerste keer ‘n openbare spreekbeurt gekry het, onherstelbare skade aan vertroue in die land. Onder die beskerming van die MRK het hy moord en geweld aangehits sonder enige gevolge. Dit is tyd dat hy daarvoor aangevat word.”









