Dit is weer die begin van ‘n nuwe jaar – 2024. Vanaf Januarie tot Mei word munisipaliteite getaak om publieke deelname vir die volgende finansiële jaar se eiendombelasting tariewe te verkry. Hierdie tariewe moet op 1 Julie 2024 geïmplementeer word.
Waar laat dit ons as belastingbetalers?
Die doel van eiendombelasting is om ‘n finansiële bydrae tot die munisipaliteit te lewer ten einde openbare dienste te lewer, sowel as om by te dra tot die munisipale begroting. Hierdie bydrae tot die begroting is ‘n groot bekommernis vir grondeienaars. Daar word dan gekyk na munisipaliteite se finansiële situasie en tot watter mate gaan ek, die belastingbetaler verantwoordelik gehou word vir finansiële bydrae.
Die ekonomie is ‘n belangrike faktor wat ook in ag geneem moet word.
Huishoudelike verbruik en uitgawe is van die verwagte 2.5 persent in 2022 na 0.8 persent in 2023 weens die rentekoers, inflasie en swak verbruikersvertroue.
Data van die Nasionale Kredietreguleerder dui aan dat banke 70% van kredietaansoeke afkeur – die hoogste syfer nog – omdat hulle bekommerd is oor die vermoë van verbruikers om te betaal.
Die vooruitskattings vir die verbruikersprysindeks vir die 2023/2024 finansiële jaar was 6,0% in Desember en hierdie syfer verswak na 4,9% vir die 2024/2025 finansiële jaar. Die vooruitskatting vir die daaropvolgende jare toon ‘n deurlopende verlaging. Die prentjie begin redelik donker word.
Munisipaliteite is deurgaans kunsmatig aan die gang gehou en hul volhoubaarheid lyk redelik aanvaarbaar – of is hulle? Die staatskas gee jaarliks vir munisipaliteite verskeie toelaes wat aangewend kan word vir ekonomiese ontwikkeling, uitbreiding, om minderbevoorregtes te subsidieer vir elektrisiteit en water, en om verskeie ander aksies te loods.
Die volgende vraag is dus – hoe lyk die staatskas? Voorwaardelike toelae allokering word vir die volgende finansiële termyn verminder met R12,8 biljoen; R9,6 biljoen in die plaaslike regering se aandeel en R3,2 biljoen vir direkte toelae.
Twee faktore wat oorlewing direk beïnvloed is water en elektrisiteit. Dit is verblydend dat, volgens die munisipale begroting omsendskrywe vir die 2024/2025 finansiële termyn, die regering voorsiening maak om die waterinfrastruktuur te verbeter en onderhou. Dieselfde kan ongelukkig nie die elektrisiteitvoorsiening ‘n hupstoot gee nie.
Die toelaag vir die integrale nasionale elektrifiseringprogram (Eskom) word verminder met R250 miljoen. R53 miljoen van die Eskom-toelae word geprioritiseer vir die Nasionale Departement van Minerale Sake en Energie om verlate myne en myne sonder eienaar te rehabiliteer.
Wanneer mynlisensies en -permitte uitgereik word, moet ‘n bankwaarborg vir rehabilitasie gegee word. Waar is hierdie waarborge en waarom is dit nie voldoende nie? Is die wetgewing dan nie voldoende nie? Elke mynaansoek het uitdagings en dit is duidelik dat die regering nie die vermoë het om voorsiening te maak vir die se instandhouding en rehabilitering van natuurhulpbronne nie.
Volgens die Nasionale Tesourie se finansiële omsendskrywe is daar verskeie munisipaliteite wat in finansiële verknorsing is en likwidasie in die gesig staar. Munisipaliteite word egter gemaan om die tarief verhoging binne aanvaarbare norme te implementeer met ‘n balans tussen bekostigbaarheid en behoeftige gesinne wat ondersteun word deur subsidies. Die vraag ontstaan: hoe bepaal die munisipaliteit en die regering bekostigbaarheid en wat is die raamwerk wat daarvoor gebruik word?
Munisipaliteite word aangemoedig om die verhoging tussen 4 tot 6 persent toe te pas vir die komende finansiële jaar en enige verhoging bo hierdie persentasie moet regverdig word. Aandag moet gegee word aan die verskillende tariefverhogings oor alle verbruikersgroepe.
Hierdie aspekte klink soos ‘n ernstige botsende belang, veral as die munisipaliteit ‘n tekort in inkomste ervaar maar nie ‘n buitengewone verhoging in eiendombelasting mag toepas en sodoende die verbruiker uitbuit nie. Hoe nou gemaak?
Die basis van eiendombelasting word bepaal deur die waardasie van die eiendom. Menigte munisipaliteite onderneem vanjaar hulle algemene waardasierol maar kan ook aanvullende waardasies ïmplementeer.
Ons moedig elke grondeienaar aan om die waardasierol uiters krities te ondersoek, hetsy algemeen of aanvullend, sodat eiendomwaardasies nie onnodig opgeblaas word om die munisipaliteit se inkomste te verhoog nie. Maak seker wat is jou eiendom se waarde en vergelyk dit met die munisipale waardasie. Hou die koerante en kennisgewings dop vir die konsultasietydperk van die waardasierol sodat jy dit nie misloop nie. ‘n Waardasie kan nooit weer reggestel word indien die raad die waardasierol aanvaar het nie. Dan is die waardasie van jou eiendom ‘n gegewe.
Daar is ‘n sterk moontlikheid dat grondeienaars in die 2024/2025 finansiële jaar uitgebuit gaan word om munisipaliteite aan die lewe te hou. Grondeienaars moet dus op hulle hoede wees om nie onkant gevang te word en die gans wat die goue eier lê vir jou munisipaliteit se voortbestaan te word nie.
Geskryf deur Erika Helm, TLU SA Voorsitter van Plaaslike Regeringskomitee









