James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Landboutoestande – Spesiale vergadering van die uitvoerende komitee

In die lig van die harde werklikhede waaronder boere tans gebuk gaan, het die uitvoerende komitee (UK) ‘n spesiale vergadering belê om op aspekte wat TLU SA kan aanspreek te fokus en omstandighede so gunstig as moontlik te maak.

‘n Paar aspekte is opnuut beklemtoon, naamlik dat Suid-Afrika gebuk gaan onder ‘n regeringsbeleid wat in die praktyk streef om eerder geleidelik ‘n benadering van sosialisme en kommunisme te vestig as om privaatbesitreg en ‘n markgerigte ekonomie bestel te bevorder en versterk. Dit het ‘n groot impak op die beleidsomgewing wat die beïnvloeding daarvan bitter moeilik maak.

Dit ten spyt, het TLU SA oor tyd heen op elke moontlike forum volhard om ekonomiese beginsels so effektief as moontlik in te dra. Die ideologiese aanslag word netjies verpak onder terme soos transformasie, bemagtiging, regstellende aksie, ens., en is die resultate daar vir almal om te sien. Die semi-staat- en staatsinstellings se wiele is grootliks besig om af te kom en dit is nou ironies dat, hier kort voor die verkiesing, ons ‘n dinamiese uitreik na die privaatsektor se kundigheid ervaar om te kom red. Die probleem is egter dat die kaders wat oor tyd heen aangestel is, juis die oorsaak van die ineenstorting is en steeds daar sit. Dit maak die uitvoering van ‘n omkeerstrategie inderdaad bitter moeilik.

Markkragte evalueer net een ding – of die plaas winsgewend is of nie. ‘n Verskeidenheid aspekte wat buite die boer se beheer is, speel hierop in. Die dilemma is dat markkragte hulle nie aan al hierdie dinge steur nie, maar slegs aan die wins of verlies. Dit maak dinge vir die boer baie kompleks en dit is die boer se veerkragtige vermoë om, gegewe al die veranderlikes, besluite oor die bestuur van produksiefaktore te neem, wat op die einde saak maak.

TLU SA het deur hul insette die gesprek oor die sogenaamde meesterplan, met die hulp van ander rolspelers weer oopgemaak gekry. Waar ons aanvanklik alleen gestaan het, is daar nou reeds ses organisasies wat die gevaar van ongekwalifiseerde transformasie as die weg om landbou te rig, besef.

Ons moet fokus op winsgewendheid, produktiwiteit en volhoubaarheid. Die feit dat TLU SA hier vasgestaan het, maak opsigself ‘n reuse verskil vir die pad vorentoe. Hef aan lê egter nog voor.

TLU SA se doelstellings, soos vervat in ons grondwet, is om onder andere die beginsel van kollektiewe bedinging onder lede te bevorder. Die dilemma van ekonomie van skaal, as gevolg van buitengewone hoë insetkoste wat nie tred hou met markpryse nie, gaan al hoe meer van boere vereis om koppe bymekaar te sit en die nodige kapasiteit om die harde realiteite aan te spreek, te skep.

Die UK gee tans aan die volgende sake aandag:

  1. Elke boerdery eenheid moet besef dat hul besluitneming gebaseer is op hoe goed hulle ingelig is. Om te boer is ’n omvangryke taak en is dit belangrik dat boere honger vir nagevorste kennis moet wees ten einde die beste besluite te kan neem. Dit is elke boer se verantwoordelikheid om van toepaslike gespesialiseerde dienste gebruik te maak, bv. die LWO vir arbeidsaangeleenthede.
  2. Boere moet betrokke by hul algemene sake en toepaslike kommoditeitsorganisasies wees ten einde hulle stem sterker te laat hoor. Lede van hierdie organisasies moet seker maak dat die fokus deurentyd is om die doelstellings van die organisasie na te streef.
  3. Die beleidsomgewing bly ’n onnodige bedreiging vir volhoubare besighede. Die voorstel dat ’n kundige landbou-advieskomitee, wat bestaan uit kommersiële boere, betrokke behoort te wees in alle aanbevelings en die daarstel van beleidstandpunte, is reeds by die departement ingedien en moet opgevolg word. Primêre boere se stempel moet sterker afgedruk word – dit is die groepering wat die grondslag van die hele waardeketting vorm en wat saak maak. Die boere se stem moet sterker gehoor word.
  4. Grondvlakstrukture moet wanneer ’n ramp in hul distrik ontstaan, die nodige handelinge verrig om die gebied as ’n rampgebied te laat verklaar. ‘n Riglyn in die verband word tans saamgestel.
  5. Wanneer boere voorsien dat verpligtinge moeilik nagekom gaan word, moet hulle betyds en op die regte manier finansiële instellings hanteer. ’n Riglyn in die verband word tans saamgestel.
  6. Gesprekke moet aangegaan word met die ander landbou-organisasies om ’n kollektiewe benadering teenoor die regering en finansiële instellings daar te stel.
  7. Die statutêre omgewing waarbinne likwidasies plaasvind en die funksionele doeltreffendheid van meesterskantore ten opsigte van kontrole oor likwidasieprosesse, moet ondersoek word. Daar sal mettertyd hieroor terugvoering gegee word.

Kategorie:

Deel dit:

Landboutoestande – Spesiale vergadering van die uitvoerende komitee