Die landbou-organisasie TLU SA sê hy is bekommerd en hartseer oor die brutale moord op ‘n prominente sakeman en gerespekteerde boer in KwaZulu-Natal op 13 Junie 2024. Hierdie gruweldaad is ‘n tragiese toevoeging tot die ontstellende toename in plaasaanvalle en -moorde wat Suid-Afrika die afgelope twee weke geteister het.
Vyf mans in balaklawas het na bewering die bejaarde Tollie Nel se huis binnegedring, geld en wapens geëis, en hom herhaaldelik geskiet voordat hulle met vyf gesteelde vuurwapens te voet van die toneel gevlug het.
Sedert die nasionale verkiesings op 29 Mei het die land ‘n drastiese toename in geweld teen boere gesien. Van 31 Mei tot 14 Junie 2024 het 15 plaasaanvalle en sewe moorde in Suid-Afrika plaasvind. Hierdie syfers is veral kommerwekkend as daar in ag geneem word dat daar van Januarie tot Mei 2024 ‘n totaal van 60 plaasaanvalle en nege plaasmoorde was. Die tendens dui op ‘n beduidende toename wat nie geïgnoreer kan word nie.
Met die nuwe regering wat vandag tydens die eerste parlementêre sitting in Kaapstad aangewys word, doen TLU SA ‘n dringende beroep op die inkomende administrasie om hierdie kritieke kwessie met die erns wat dit verdien, aan te spreek. Die politieke wil om veral plaasmoorde en -aanvalle te bekamp, was merkbaar afwesig, en dit moet onmiddellik na behore aangespreek word, meen TLU SA.
“Boere is die ruggraat van ons land se landbousektor, en hul veiligheid is van uiterste belang,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Dit is noodsaaklik dat die nuwe regering hul verbintenis tot die hantering van hierdie krisis openbaar verklaar en hul statutêre verantwoordelikheid nakom om die lewens en lewensbestaan van ons boere te beskerm. TLU SA eis ‘n duidelike en uitvoerbare plan om die veiligheid en sekuriteit van dié wat in landelike gebiede woon en werk, te verseker.”
TLU SA staan gereed om saam met die regering te werk om effektiewe maatreëls te ontwikkel en implementeer om plaasgeweld te bekamp.
Foto Matt Forster | Unsplash



