James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Is waarnemende landbouminister nou dept. van landbou se toekoms?

(Fotokrediet: Senzo Mchunu, Facebook)

Die landbou-organisasie TLU SA neem kennis van die aanstelling van die huidige minister van water en sanitasie, Senzo Mchunu, as waarnemende minister van landbou.

Hierdie skuif laat onmiddellik die vraag ontstaan of hierdie aanstelling ‘n permanente posisie voorspel, en of dit regtig nodig was om hierdie besluit te neem, slegs ‘n paar dae voor ‘n nuwe kabinet aangewys word. Die spoedige aanstelling skep die indruk dat Mchunu dalk dié portefeulje in die nuwe kabinet sal kry.

Die adjunk-minister van Landbou sou sekerlik in hierdie paar dae die leisels kon oorneem, saam met ‘n direkteur-generaal van landbou wat die land se landboubelange met toewyding dien.

TLU SA voel dit is noodsaaklik om Mchunu se bydraes tot die departement van water en sanitasie te oorweeg, waar daar onmiskenbare probleme is met stelsels wat nie na behore funksioneer nie.

TLU SA is reeds vir ‘n geruime tyd in ‘n dispuut met die departement van water en sanitasie oor foutiewe waterrekenings. “Ten spyte van redelike goeie wetgewing oor waterregulering en -bestuur, is ons waterbronne vandag ernstig besoedel, wat dit onveilig maak vir gebruik in landbouproduksie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

TLU SA meen ook dat Mchunu se agtergrond, ervaring en kennis in die landboubedryf ‘n vraag is wat beantwoord moet word. “Landbou het ‘n komplekse omgewing geword, en indien die nodige kundigheid nie bestaan om die departement in ‘n landbou-ekonomiese rigting te lei nie, sal die produksie van voedsel en vesel in gevaar gestel word,” sê Van Zyl.

TLU SA meen president Ramaphosa het ‘n gulde geleentheid om ‘n kabinet van kundige persone saam te stel wat ons ekonomie kan herstel en groei kan bewerkstellig. Die rol van landbou as voedselverskaffer is té belangrik om deur politieke speletjies in die gedrang te kom.

TLU SA wag om te sien hoe die nuwe regering van nasionale eenheid se uiteenlopende beleidsrigtings nou by ‘n gemeenskaplike standpunt kan uitkom. In watter mate ander politieke partye inspraak gehad het in hierdie tydelike aanstelling, is onseker. 

As die ANC steeds eensydig voortgaan sonder om ander partye te raadpleeg, mag die hoop op ekonomiese rasionaliteit dalk net wensdenkery wees.

 

Kategorie:

Deel dit:

Is waarnemende landbouminister nou dept. van landbou se toekoms?