Die ANC-regering se hernude pogings om onteiening van grond sonder vergoeding te versnel, wek groot kommer, veral na adjunkpresident Paul Mashatile se onlangse uitsprake dat grondhervorming steeds ‘n hoë prioriteit op die ANC se agenda is. “Grond is alles,” het Mashatile gesê, en het beloof om “vinnig op te tree”, ondanks die ANC se vorige onsuksesvolle poging om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.
In reaksie hierop het Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, ernstige bekommernis uitgespreek oor die regering se benadering. “Die ANC dryf ’n agenda wat die reeds wankelende ekonomie in duie kan laat stort,” het van Zyl gesê. “Wie gaan belê in ‘n land waar die staat die reg opeis om bates sonder vergoeding te konfiskeer? So ‘n denke is eenvoudig absurd. Deur die hele proses van die onteieningswet en pogings om artikel 25 van die Grondwet te verander, het TLU SA en ander rolspelers die gevaarligte uitgewys oor hoe irrasioneel hierdie raamwerk vir ekonomiese groei is.”
Van Zyl het ook na die Minister van Finansies se onlangse begrotingsrede op 31 Oktober 2024 verwys, waarin hy die belangrikheid van ekonomiese groei en werkskepping beklemtoon het—doelwitte wat net deur ’n sterk en vertroue-private sektor bereik kan word. Die private sektor moet verseker wees dat hul beleggings veilig is en nie bedreig word deur die moontlikheid van onteiening sonder vergoeding nie. “Volhoubare werkskepping kom wanneer die private sektor winsgewende besighede kan bedryf, en dit is die staat se plig om ’n omgewing te skep waarin mense graag besigheid wil doen,” het van Zyl gesê.
“Ons sien steeds rooi ligte vir die toekoms van ons ekonomie. In plaas daarvan dat die regering fokus op opleiding en bemagtiging van mense oor hoe welvaart geskep kan word en hoe hulle ‘n verantwoordelike rol in die ekonomie kan speel, is hulle besig met emosionele, ideologiese praktyke wat Suid-Afrika se ekonomiese toekoms in gevaar stel,” het van Zyl benadruk.
Hy het daarop gewys dat die Departement van Grondsake self erken het dat meer as 90% van grond wat voorheen oorgedra is, nou uit produksie is. “Is die regering werklik so kortsugtig dat hy die toekoms van Suid-Afrika by elke jongmens steel?”
TLU SA doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners en belanghebbendes om TLU SA se inisiatiewe, soos die TLU SA Handves vir die Beskerming van privaat eiendomsreg, te ondersteun. Dit is noodsaaklik dat ons saamwerk om wetgewing en beleidsrigtings teen te staan wat ons ekonomie en toekomstige generasies in gevaar stel.









