Tiaan Barkhuizen is ’n jong en gedrewe boer wat oorspronklik van Malmesbury in die Wes-Kaap af kom. Hoewel sy familie nie ’n boerdery-agtergrond het nie, sy ouers besit ’n vervoermaatskappy, het Tiaan van ’n jong ouderdom ’n passie vir boerdery ontwikkel, veral vir diere en die kuns om die ideale dier te teel. Hierdie passie het hom gelei om landbou by CPUT in Wellington te studeer en uiteindelik sy eie boerdery met ‘n helder visie te begin.
Loersand Boerdery, sy plaas, is ’n diversifiseerde onderneming wat verskeie takke insluit wat mekaar ondersteun. Die hart van die boerdery is sy Dorper-stoet, kommersiële veeboerdery met dorpers, Meatmasters en Boerbokke, sowel as ’n voerkraal op Loerkop naby Garies. Die unieke waarde van Tiaan se boerdery lê daarin dat hy nie net sy eie ramme teel nie, maar ook sy eie lammers voer, die vleis self verwerk en direk aan kliënte bemark. Hierdie geïntegreerde benadering gee hom beheer oor die produk se kwaliteit én prys, terwyl dit ook voorsiening maak vir die in- en verkoop van diere oor verskeie fases.
In die daaglikse bestuur glo Tiaan dit is belangrik om self betrokke te wees by die werk op die plaas. Ondanks die uitdagings van verspreide plase, spandeer hy ten minste ’n weeklikse besoek aan elke trop, werk saam met sy personeel en verseker dat alles glad verloop. Hierdie benadering hou hom direk betrokke by die hart van sy boerdery.
Soos baie jong boere, het Tiaan ook sy eie uitdagings gehad. Die grootste is die onvoorspelbare reënval in Namakwaland en die bedreiging van ongediertes wat “aan jou wins van die jaar vreet”. In reaksie hierop het hy innoverende maatreëls ingestel, soos jakkalsbestande drade met klippakkette, die verdeling van diere in kleiner troppe van ongeveer 250, en veldbestuur deur diere slegs kortliks in kampe te hou om gras te beskerm. Hierdie strategieë help hom om die onvoorspelbaarheid van die omgewing te bestuur, eerder as om te probeer beheer.
Tiaan volg ’n goue reël: vra altyd raad by ervare boere. Hy glo jong boere kan baie leer deur die foute van ander te vermy. Hierdie raad kombineer hy met moderne tegnologie soos kunsmatige bevrugting om maksimum dierprestasies te behaal, asook die gebruik van kameras en boekhoustelsels om diere te beveilig tydens die lamtyd.
Om as ’n finalis van TLU SA se Jongboerkompetisie aangewys te wees, is vir Tiaan ’n groot eer en ’n bron van inspirasie. “Dit is reeds ‘n ongelooflike groot voorreg om deel te wees van die kompetisie. Om ‘n finalis te wees, is regtig n bitter groot eer, sê hy. “Dit laat ‘n mens net weer sien wat jy doen en hoekom jy dit doen.”
Tiaan vertel die kompetisie het hom sommer van voor af inspireer om sy boerdery verder uit te brei en nuwe geleenthede aan te pak. “My vrou sê altyd; Besef eers wat jy het, voor jy vir nog vra, en die kompetisie het dit net weer vir my gewys, hoe dankbaar ek kan wees vir dit wat ek het.
Tiaan se hoop vir die toekoms van jong boere en die landbou in Suid-Afrika is dat jong mense nooit moet ophou probeer nie, maar moet aanhou boer, vasbyt en help om minder plase onbewerk te laat lê. Hy glo dat landbou die hart van elke land is en hoop dat meer jongmense terug plaas toe sal gaan om voedselsekerheid te bou.
Sy droom vir Loersand Boerdery oor die volgende tien jaar is om Namakwaland se vleisprodukte meer blootstelling te gee in die groter mark. Hy wil ’n groter vleisverwerkingsaanleg vestig wat vleis met ’n sterk Namakwaland-identiteit direk aan verbruikers kan lewer. Sy nalatenskap wil hy bou op die beginsel dat kwaliteit altyd beter is as kwantiteit.
Tiaan Barkhuizen is ’n uitstekende voorbeeld van ’n jong boer wat met visie, hardwerkendheid en ’n kombinasie van tradisie en innovasie ’n blywende impak wil maak in Suid-Afrikaanse landbou.









