TLU SA neem kennis van President Cyril Ramaphosa se aankondiging van wysigings aan die Nasionale Uitvoerende Gesag, waaronder die aanstelling van Willie Aucamp as Minister van Landbou.
Die aankondiging volg te midde van die aanloop tot die munisipale verkiesing op 4 November en teen die agtergrond van politieke ontwikkelinge binne die Regering van Nasionale Eenheid. Hoewel politieke verandering deel van ‘n demokrasie is, kan die landbousektor nie die gevolge van politieke onsekerheid en kabinetverskuiwings verdiskonteer nie.
“Landbou funksioneer nie volgens politieke termyne nie. Die sektor benodig stabiliteit, beleidskontinuïteit en besluitneming wat die langtermynbelange van voedselproduksie voorop stel. Die uitdagings waarmee produsente gekonfronteer word, wag nie totdat politieke prosesse afgehandel is nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
Volgens TLU SA behoort die onmiddellike fokus op die beheer van bek-en-klouseer (BKS) te wees. Dit is noodsaaklik dat daar so spoedig moontlik ‘n kollektiewe benadering gevolg word waarin alle beskikbare kundigheid en kapasiteit, in beide die openbare en private sektor, benut word om die siekte onder beheer te bring.
“Nou is die tyd vir konstruktiewe, toekomsgerigte aksieplanne. Die uitkoms wat die landbou benodig, is dat markte so spoedig moontlik weer onbevange en doeltreffend funksioneer, veral met betrekking tot bek-en-klouseer.”
Van Zyl sê die bestuur van landbou verg besondere kundigheid.
“Landbou is die bestuur van biologiese prosesse tot by winsgewendheid. Dit is terselfdertyd ‘n ekonomiese proses wat uiteindelik verantwoordelik is vir die strategies noodsaaklike verskaffing van voedsel. Die grootste stabiliseerder in enige land is dat daar kos op mense se tafels is. Daarom mag politieke doelwitte nooit inmeng met die besluite wat nodig is om voedselproduksie te beskerm en uit te bou nie.”
Hy beklemtoon dat die verantwoordelikheid van die Minister van Landbou veel verder strek as die hantering van BKS alleen. Vraagstukke soos insetkoste, biosekuriteit, eiendomsreg, landelike veiligheid, marktoegang, infrastruktuur en beleidssekerheid vereis ewe veel aandag.
“Minister Aucamp sal hom deeglik moet vergewis van die toenemende druk wat insetkoste op produsente plaas. Dit is ‘n uitdaging wat nie deur die regering alleen aangespreek kan word nie. Georganiseerde landbou behoort ‘n vennoot te wees in die soeke na praktiese oplossings wat die volhoubaarheid van voedselproduksie versterk.”
TLU SA is verder van mening dat een van minister Aucamp se grootste uitdagings daarin sal lê om die kultuur en benadering binne die Departement van Landbou verder te ontwikkel. Die sektor het ‘n departement nodig wat deur boere as ondersteunend beleef word en nie as deel van die probleem nie.
Die organisasie bedank voormalige minister John Steenhuisen vir sy bereidwilligheid om met georganiseerde landbou in gesprek te tree gedurende ‘n uitdagende tyd vir die sektor en spreek die vertroue uit dat die momentum wat met verskeie prosesse geskep is, nie verlore sal gaan nie.
“TLU SA vertrou dat minister Aucamp ‘n oopdeurbenadering teenoor georganiseerde landbou sal handhaaf. Landbouorganisasies verteenwoordig produsente oor die volle spektrum van die bedryf en is ‘n belangrike spreekbuis vir die uitdagings én oplossings wat in die praktyk ervaar word. Ons sien daarna uit om hierdie verhouding in belang van die landboubedryf verder uit te bou.”
Van Zyl sluit af: “Daar lê ‘n uitdagende taak voor. TLU SA wens minister Willie Aucamp alle sterkte toe. Ons lepel vol raad uit georganiseerde landbou is eenvoudig: boere kyk nie na toesprake nie, maar na aksies. Dit is noodsaaklik dat gesonde landboukundige beginsels sal seëvier en dat markkragbeginsels die grondslag sal vorm waarteen alle beleidsbesluite en wetgewing getoets word.”





