TLU SA vier vandag, 29 September 2026, sy 129ste bestaansjaar; meer as ’n eeu van georganiseerde landbou, veranderende uitdagings en ’n verbintenis tot die belange van Suid-Afrika se kommersiële boere.
Die organisasie is op 29 September 1897 as die Transvaalse Landbou-unie (TLU) gestig, nadat die behoefte aan ’n verenigde landboustem reeds in 1896 tydens ’n vergadering van die Pretoria Landbouw Maatskappij bespreek is.
JJ Enschede is tydens die stigtingsvergadering as die eerste president aangewys, terwyl FT Nicholson as een van die dryfkragte agter die stigting van die organisasie beskou word.
Reeds tydens TLU se eerste kongres is ’n beroep gedoen vir die instelling van ’n Departement van Landbou. In die jare wat gevolg het, het die organisasie ook ’n rol gespeel in verskeie ontwikkelings wat deel van Suid-Afrika se landbougeskiedenis geword het.
Ná die Anglo-Boereoorlog het TLU onder meer ’n rol gespeel in die heropbou van landbou. In 1905 het die organisasie hom vir die totstandkoming van ’n Landbank beywer, wat uiteindelik in 1907 sy deure geopen het. TLU was ook betrokke by die ontwikkeling van georganiseerde landbou oor ’n veel langer tydperk en het deur verskillende eras van Suid-Afrika se geskiedenis bly funksioneer.
In 1997 het TLU sy eeufees gevier. Vyf jaar later, in 2002, het die organisasie ’n nasionale organisasie geword en is die naam na TLU SA verander.
Vandag, 129 jaar ná sy stigting, funksioneer TLU SA deur sy streke, distrikslandbou-unies, boere-unies en verskeie vaste komitees om die behoeftes en belange van kommersiële boere op grondvlak aan te spreek.
Volgens Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, lê die betekenis van die organisasie se 129ste bestaansjaar nie bloot in sy ouderdom nie, maar in die generasies landbouers wat oor meer as ’n eeu deel daarvan was.
“Wanneer ’n organisasie 129 jaar oud word, kyk jy terug na geslagte boere wat bereid was om saam te staan, verantwoordelikheid te neem en ’n organisasie te bou wat die landbouer se stem kan dra. Die wêreld waarin ons vandag boer, lyk baie anders as dié van 1897, maar die behoefte aan ’n sterk, georganiseerde landboustem is steeds net so relevant.”
Van Zyl sê die mylpaal is ook ’n herinnering dat die werk van TLU SA nie by sy geskiedenis kan stilstaan nie.
“Ons het groot waardering vir die mense wat oor 129 jaar aan TLU SA gebou het, maar ons verantwoordelikheid lê ook by die volgende geslag. Ons taak is om vandag die werk te doen wat dit vir boere moontlik maak om môre steeds volhoubaar te produseer, hul ondernemings uit te bou en voedsel op Suid-Afrikaanse tafels te plaas.”
TLU SA beskryf homself vandag as ’n organisasie van sy lede, vir sy lede, met die bevordering van die belange van sy lede en die landboubedryf as ’n kernfokus. Die organisasie se werk strek oor onder meer eiendomsreg, landelike veiligheid, ekonomiese sake, arbeid, water en ander aangeleenthede wat kommersiële landbou raak.
Hoewel die uitdagings waarmee ’n boer in 2026 te kampe het aansienlik verskil van dié waarmee landbouers in 1897 geworstel het, bly die beginsel van georganiseerde landbou, dat ’n gemeenskap sterker kan optree wanneer sy lede saamwerk, deel van TLU SA se bestaansrede.
129 jaar later gaan die werk voort.









