James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA bevraagteken grondslag van landbouplan

TLU SA het ernstige kommer oor die versnelde implementering van die Landbou- en Landbouverwerkingsmeesterplan (AAMP) terwyl fundamentele vrae oor die ekonomiese grondslag daarvan steeds onbeantwoord is.

Dit volg op landbouminister Willie Aucamp se herhaalde openbare oproepe dat die implementering van die AAMP versnel moet word. Aucamp het onlangs weer in ’n onderhoud met Business Day aangedui dat daar onvoldoende momentum is om die plan in meetbare uitkomste te omskep. Hy het onder meer die belang van winsgewende boerderye, private investering, eiendomsreg en marktoegang beklemtoon.

TLU SA stem saam dat hierdie beginsels noodsaaklik is vir ’n groeiende en volhoubare landbousektor, maar meen dit beklemtoon juis die teenstrydigheid waaroor die organisasie reeds sedert die ontwikkeling van die AAMP waarsku.

“Die vraag is wat die grondslag van hierdie plan uiteindelik is. Is dit ’n ekonomiese plan wat beoordeel gaan word aan winsgewendheid, produktiwiteit, volhoubaarheid en doeltreffendheid, of word hierdie ekonomiese beginsels ondergeskik gestel aan ’n transformasie-agenda?” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

TLU SA het reeds tydens die ontwikkeling van die AAMP beswaar gemaak teen die wyse waarop transformasie in die plan vervat word. Die organisasie het gevra dat die begrip duidelik omskryf word en gewaarsku dat transformasiedoelwitte nie ten koste van ekonomiese beginsels nagestreef kan word nie. Dié kernbeswaar is volgens TLU SA steeds nie bevredigend aangespreek nie.

“Transformasie kan nooit belangriker as winsgewendheid en volhoubaarheid wees nie. Winsgewende plase behoort die spilpunt te wees waarom ’n landboumeesterplan draai, ook wanneer dit oor die uitkomste van grondhervorming gaan. Indien transformasie ’n bepalende komponent van die AAMP is, moet daar duidelikheid wees oor wat daarmee bedoel word en hoe die ekonomiese gevolge daarvan gemeet gaan word,” sê Van Zyl.

Die AAMP stel ekonomiese groei, werkskepping, voedselsekerheid en groter deelname aan landbou as belangrike doelwitte. Volgens TLU SA kan hierdie doelwitte slegs bereik word in ’n omgewing wat produktiwiteit, investering en winsgewende produksie bevorder.

TLU SA beklemtoon dat dié standpunt nie daarop neerkom dat nuwe toetreders uit die landbousektor gehou moet word nie. Die organisasie het in sy oorspronklike kommentaar op die AAMP aangedui dat nuwe toetreders ’n billike geleentheid en toepaslike ondersteuning moet kry om volhoubare kommersiële produsente te word. Ekonomiese volhoubaarheid en prestasie moet egter die uiteindelike maatstaf van sukses wees.

Aucamp se eie klem op winsgewendheid, private investering en eiendomsreg is daarom volgens TLU SA belangrik. Indien dit die beginsels is waarop die landbousektor uitgebou moet word, behoort dit konsekwent op die volledige AAMP toegepas te word.

“Suid-Afrika kan nie bekostig dat landbou se ekonomiese funksie deur ideologiese beleidsdoelwitte verdring word nie. Die sukses van die plan moet uiteindelik gemeet word aan die ekonomiese uitkomste daarvan en die vermoë om ’n produktiewe, mededingende en volhoubare landbousektor te ondersteun,” sê Van Zyl.

Die organisasie meen Aucamp se standpunt dat die AAMP as ’n aanpasbare plan beskou moet word, bied die geleentheid om die uitstaande kwessies behoorlik te hanteer voordat implementering verder versnel word.

TLU SA het reeds na Aucamp uitgereik oor die organisasie se kommer met die AAMP. Van Zyl sê die organisasie ervaar die minister as toeganklik en vertrou dat daar binnekort geleentheid sal wees vir gesprek met die relevante rolspelers om die tekortkominge in die plan behoorlik te bespreek.

“Ons glo dat daar ruimte is vir konstruktiewe gesprek en dat die nodige aanpassings gemaak kan word om die AAMP op ’n sterker ekonomiese grondslag te plaas. Dit is in belang van die hele landbousektor dat die rolspelers om dieselfde tafel kom en die uitstaande kwessies uitklaar,” sê Van Zyl.

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA bevraagteken grondslag van landbouplan