President Cyril Ramaphosa se 2022 staatsrede is belaai met herstelplanne vir die land se ekonomie, maar die regering se beleidsomgewing maak die uitvoering van die planne onseker.
Vanjaar se staatsrede is in die Kaapstad-stadsaal gehou weens die brand in die Parlement.
In sy staatsrede het Ramaphosa na die Ekonomiese Heropbou en Herstelplan verwys wat die skepping van werksgeleenthede in die hart van ons ekonomiese herstel plaas en gesê dit word tans geïmplementeer. Hy het ook verwys na ’n plan vir ekonomiese herstel en groei wat binne 100 dae opgestel moet word. Die ramptoestand sal afgelas word na samesprekings om seker te maak dit is veilig om te doen. Grootskaalse hervorming by Eskom en Transnet is ook genoem. Ramaphosa het dit ook duidelik gestel dat grondhervorming sal voortgaan.
Mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder, het reageer: “Suid-Afrika se fokus moet op ekonomiese groei wees soos tereg hier deur die President gesê. Daarsonder is daar nie enige kapasiteit om enige van die uiters noodsaaklike aspekte aan te spreek nie. Die regering se beleidsomgewing is egter nie een wat vertroue in die privaatsektor skep nie en die regering maak baie staat op die privaatsektor deur te sê die regering skep nie werk nie, maar die privaatsektor doen. Tereg voeg Ramaphosa by dat die regering die klimaat skep vir die privaatsektor om werksgeleenthede te skep…en tans is dit nie die geval nie.
“Die spreekwoordelike ekonomiese koek moet vergroot word. Vir die ekonomiese koek is die koekbakkers die ondernemers of entrepreneurs en die bestanddele vir die koek is beleggings. Beleggings wat net sal realiseer indien die beleidsomgewing gunstig is om die nodige vertroue te skep. Oor tyd heen het die regering as gevolg van sy beleidsomgewing soveel onsekerheid geskep en die gevolg is sy bestanddele het opgedroog. Daar word nou met spreekwoordelike gemaalde beesmis (kaderontplooiing, Swart Ekonomiese Bemagtiging, korrupsie, ens.) gebak instede van koekmeel. Die Staatsrede het nou al iets soos ’n versiersuikerlagie geword om hierdie onbruikbare en oneetbare koek te laat mooi lyk.
“Suid-Afrika stik nou al lank aan die gevolge van hierdie onbruikbare verdigsel van ’n koek en raak die probleme soos vervalle infrastruktuur, werkloosheid, ’n swak opleiding in skole, onvermoë om na die inwoners van die land se veiligheid om te sien en vele ander net al hoe erger. As gevolg van juis kaderontplooiing en SEB is die kundigheid om te kan lewer op al die voorstelle van die staatsrede erg gedreineer. Voeg dan daarby die plundering van die staatsfinansies op alle vlakke en die perfekte ekonomiese storm is op ons tafels. In die lig hiervan is dit moeilik om enigsins waarde te heg aan die staatsrede in die sin dat dit slegs ’n retoriek geword het van ’n spel vir die paviljoen en word net die versiersuiker voorgehou as die pad vir die toekoms. Die ANC in sy wese met sy verbintenis tot ’n ideologie waarbinne die SAKP en Cosatu meedoen om hom gevange te hou tot ’n benadering vir die toekoms wat wêreldwyd nog net armoede en hartseer geskep het, plaas enige ekonomiese aankondiging onder groot verdenking.”
Hy het wel die President se erkenning van oorregulering verwelkom en so ook die koste van digitale kommunikasie wat goedkoper sal word.
In reaksie op Ramaphosa se woorde dat landbou die potensiaal het vir grootskaalse werkskepping, het mnr. Van Zyl net gesê dat minimumloon dié positiewe idee kan nek omdraai.








