James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Boodskap Van Bennie | Februarie 2022

Wat is sukses?

Inderdaad ’n eenvoudige vraag wat op die oog af ook ’n eenvoudige antwoord het.

Uiteraard indien ons na besighede soos byvoorbeeld ’n boerderyeenheid kyk kom gedagtes soos winsgewendheid, volhoubaarheid, behoorlike risikobestuur, behoorlike opvolgbeplanning, verskansing teenoor die onbekende of onverwagte en verskeie ander aspekte in mens se gedagtes na vore. Dit is ook reg so, want indien daar nie ’n positiewe uitkoms met al hierdie aspekte en vele ander is nie, is die kans goed om dalk nie volgende jaar meer in produksie te kan wees nie.

Die vaardigheid om sukses vanuit ’n ekonomiese hoek te bereik vereis ’n sekere klomp eienskappe wat baie vinnig uitwys wie is op die ekonomiese sukses pad. Sonder om in detail in te gaan, dink ons hier aan dinge soos die bereidheid om die volle verantwoordelikheid te aanvaar vir wat dit verg om te kan boer, sin vir dringendheid, die honger om kennis te verbreed en natuurlik ’n ingesteldheid van positiwiteit (passie vir dit waarmee jy besig is).

Indien sukses wel realiseer, sal dit eendag in jou boedel reflekteer en daarom boer ons as rentmeesters met die benadering dat ons inderwaarheid die grond eintlik leen van ons nageslag. Dit bring aspekte soos bewaringspraktyke en balans na vore.

Die belangrikste sukses is dalk juis daardie aspekte wat nie in ons boedel gaan agterbly nie, maar dit wat ewigheidswaarde het. In hoe mate saai ons op daardie akker eerstens vir onsself, maar ook vir almal rondom ons. Die enigste bate wat inderdaad permanent is, is ons verhouding met ons Skepper. Mag ons daagliks nie die belangrikste arbeid van alles op daardie sukses akker versaak nie.

 

Foto: Julian JagtenbergPexels

Kategorie:

Deel dit:

Boodskap Van Bennie | Februarie 2022