TLU SA is baie bekommerd oor die toestand van die land se paaie. Dit het reeds en gaan net groter impak op die ekonomie hê, en nog belangriker is dat dit nie meer aldag veilig op die paaie is nie. Daar is verskeie faktore wat ’n rol speel en TLU SA besef swaar reën en die daarmee gepaardgaande vloede het paaie beskadig, maar die feit is dat heelwat paaie reeds in ’n swak toestand was vóór die swaar reën en vloede.
Hier word na beide grond- en teerpaaie verwys as paaie wat dringend aandag nodig het, want weens die gebrek gereelde instandhouding is die toestand van die paaie nou so erg dat dit oorgebou moet word. Dit is verby die stadium waar instandhouding nog ’n moontlike oplossing is.
“Oral in Suid-Afrika hoor boere dieselfde storie: Daar is nie geld, mannekrag en masjinerie nie. Tog is daar in die brandstofprys – wat omtrent elke maand styg – ’n groot gedeelte vir die instandhouding van paaie. Wat word van dié geld?” sê mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder.
TLU SA het besluit om oor te gaan tot aksie en met ’n veldtog te begin om te kyk wat kan gedoen word aan die huidige stand van paaie.
“Om die erns van die saak aan te spreek en die dringendheid daarvan onder die regte persone se aandag te bring – en hulle onder genoegsame druk te plaas om veranderinge af te dwing – het TLU SA almal se hulp nodig. Hierdie is ’n inisiatief van Suid-Afrikaanse landbouers in samewerking met TLU SA in belang van voedselsekerheid, menswaardigheid en die reg op lewe,” het mnr. Van Zyl vertel.
Boere ly grootskaalse skade aan hul voertuie en produkte wat by die markte moet uitkom, om die volk te voed. Die haglike toestand van paaie bring dus in gedrang boere se vermoë om kos jou tafel te kry. Daar is selfs vervoerkontrakteurs wat weens die toestand van paaie weier om dié spesifieke paaie te gebruik terwyl ander kontrakteurs hul tariewe verhoog as hulle by boere – tot wie toegang net op die verwaarloosde paaie gekry kan word – aflewerings moet doen of kos markte toe moet vervoer.
Mnr. Van Zyl voeg by: “Boerdery-insetkoste is reeds baie hoog en dit is nog voor die maandelikse brandstof-prysstyging in berekening gebring word. Boere en landbou kan eenvoudig nie nog ’n aanslag – soos die nasionale padtoestande – bekostig nie in die poging om kwaliteit voedsel teen bekostigbare pryse aan die volk te lewer. Die regering moet nou tafel toe kom en op alle vlakke aandag gee die agteruitgang van ons paaie, want dit is reeds ’n krisis.”
Om betrokke raak vra TLU SA dat Suid-Afrikaners die veldtogblad besoek https://tluveldtogte.co.za/paaie/ en jou stem tot die koor van stemme voeg wat roep vir verandering en optrede van die regering af.
“Deur die vorm in te vul, sit jy jou stem by ons versoek aan die Suid-Afrikaanse regering om voorsiening te maak vir ’n addisionele openbare belastingkortingvoordeel van 10% op alle inkomste- en korporatiewe belasting wat vir padinstandhouding gebruik word. Suid-Afrikaners gebruik hul openbare belastingkortingvoordeel vir maatskaplike kwessies met groot effektiwiteit. Op dieselfde manier kan ’n openbare belastingkortingvoordeel vir padinstandhouding instrumenteel tot padveiligheid wees.
“Ons sal in die versoek ook aan Fikile Mbalula, Minister van Vervoer, dit beklemtoon dat die huidige stand van paaie nie net ’n gevaar vir mense nie, maar ook vir die volhoubaarheid van landbou en die Suid-Afrikaanse ekonomie in geheel, te verklaar. Die petisie sal ook eis dat toegekende begrotings effektief en binne die nodige tydperke aangewend word om Suid-Afrikaanse paaie daadwerklik te verbeter.”





