TLU SA is baie bekommerd oor die toestand van die land se paaie. Dit het reeds en gaan net groter impak op die ekonomie hê, en nog belangriker is die risiko vir voedselsekerheid. Om dié rede is TLU SA dankbaar vir die ekstra fokus wat Agri SA ook nou daarop vestig.
“Ons het sowat drie weke gelede ’n veldtog begin om druk op die regte partye te sit om die haglike toestand van die land se paaie en die gevaar vir voedselsekerheid wat dit inhou, aan te spreek,” het mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder.
“Ons versoek ook alle ander landbou-organisasies, industrieë en padvervoer agentskappe om toe te tree tot die stryd om die reuse-uitdaging aan te spreek. Ons is ook dankbaar vir die uiters volledige verslag wat Agri SA saamgestel het. Dit is van groot waarde.”
In Maart het TLU SA besluit om oor te gaan tot aksie en met ’n veldtog begin om te kyk wat kan gedoen word aan die huidige stand van paaie.
“Om die erns van die saak aan te spreek en die dringendheid daarvan onder die regte persone se aandag te bring – en hulle onder genoegsame druk te plaas om veranderinge af te dwing – het TLU SA almal se hulp nodig. Hierdie is ’n inisiatief van Suid-Afrikaanse landbouers in samewerking met TLU SA in belang van voedselsekerheid, menswaardigheid en die reg op lewe,” het mnr. Van Zyl vertel.
Boere ly grootskaalse skade aan hul voertuie en produkte wat by die markte moet uitkom, om die volk te voed. Die haglike toestand van paaie bring dus in gedrang boere se vermoë om kos jou tafel te kry. Daar is selfs vervoerkontrakteurs wat weens die toestand van paaie weier om dié spesifieke paaie te gebruik terwyl ander kontrakteurs hul tariewe verhoog as hulle by boere – tot wie toegang net op die verwaarloosde paaie gekry kan word – aflewerings moet doen of kos markte toe moet vervoer.
Mnr. Van Zyl voeg by: “Boerdery-insetkoste is reeds baie hoog en dit is nog voor die maandelikse brandstof-prysstyging in berekening gebring word. Boere en landbou kan eenvoudig nie nog ’n aanslag – soos die nasionale padtoestande – bekostig nie in die poging om kwaliteit voedsel teen bekostigbare pryse aan die volk te lewer. Die regering moet nou tafel toe kom en op alle vlakke aandag gee die agteruitgang van ons paaie, want dit is reeds ’n krisis.”
Om betrokke te raak vra TLU SA dat Suid-Afrikaners die veldtogblad besoek https://tluveldtogte.co.za/paaie/ en jou stem tot die koor van stemme voeg wat roep vir verandering en optrede van die regering af.
Mnr. Van Zyl het ook met dankbaarheid na die R1.50 verligting van die algemene brandstofheffing verwys.
“Ons is dankbaar vir die vergunning. Ons is tans in posisie waar elke bietjie help, al is die uitdaging steeds ’n groot een.”








