James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Privaatsektor doen lankal sy deel; regering faal

Om die privaatsektor en burgerlike samelewing te vra om die regering tot hulp te kom om die haglike toestand van die land se paaie aan te spreek, grens aan belaglikheid.

Met die begrotingsrede het die minister van vervoer, Fikile Mbalula ’n beroep op die privaatsektor en burgerlike samelewing gedoen om die uitdaging van slaggate op provinsiale en munisipale paaie, aan te pak.

Dit kom maande nadat TLU SA al ’n veldtog begin het om die haglike en gevaarlike toestand van die land se paaie én die gevolge daarvan – gevaar vir voedselsekerheid – onder Mbalula se aandag te bring. Skakel na die veldtogblad is https://tluveldtogte.co.za/paaie/

“Die privaatsektor werk reeds sedert 1994 kliphard saam deur jaarlikse belastingbydraes, dit terwyl die regering en ministers deur middel van korrupsie hulself verryk en nie verantwoordelikhede nakom nie,” het mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder gesê.

“Dit sal dalk vir mnr. Mbalula beter wees om te sê dit is tyd dat die ANC eerlik is en erken dat hy faal. Ek wonder of die kiesers van Suid-Afrika een ding vir ons kan uitwys wat die ANC sedert 1994 verbeter het? Leë en onrealistiese beloftes is aan die orde van die dag.

Die prys van dié regering is reeds te groot vir Suid-Afrikaners, maar dit word daagliks net groter.”

Mnr. Van Zyl het die volgende vergelyking getref om die situasie te verduidelik: “Die land se infrastruktuur kan vergelyk word met sekere organe of dele van die mens se liggaam. Wanneer dit nie optimaal funksioneer nie, gaan die liggaam geleidelik agteruit, dit degenereer en kom dan tot stilstand (die dood). Dit is wat die infrastruktuur vir die ekonomie beteken. As dit infrastruktuur nie behoorlik funksioneer nie, sit jy met die harde realiteit dat die hele ekonomiese bestel degenereer tot jy uiteindelik ekonomiese dood ervaar – en met rommelstatus is dit waar ons reeds is.”

Mnr. Van Zyl het dit verder duidelik gemaak dat dit nie so eenvoudig is om net die privaatsektor nader te wil trek om die regering se probleme op te los nie. “Die wyse waarop die ANC die land regeer, is juis die oorsaak van ons probleme en nou krap die Minister terug…sy voorstel is in alle eerlikheid belaglik. Hy sal met meer na die tafel toe moet kom om mee te begin. Soos belasting toegewings en die publiek moet vrygespreek wees van enige aanspreeklikheid as hulle moet betrokke raak by die herstel van paaie. Ons land sit met ’n rompslomp stelsel wat eenvoudig nie by besluite kan uitkom nie, hoe gaan ons hierdie aksies uitvoer?”

Oor die sabotasie waarna die minister verwys het, het TLU SA ook ’n sterk standpunt.

“Jy en jou regering is die sabotasie…by wyse van julle onvermoë, steel julle die inwoners van ons land se toekoms.”

Kategorie:

Deel dit:

Privaatsektor doen lankal sy deel; regering faal