Met die minister van finansies, Enoch Godongwana, se begrotingsrede wat op Woensdag 25 Februarie 2026 voorlê, rig TLU SA ’n duidelike boodskap aan die regering: sonder daadwerklike optrede oor veiligheid en staatskapasiteit sal geen ekonomiese plan of hervorming werklik slaag nie. Teen die agtergrond van vanjaar se Staatsrede, waar verskeie prioriteite sterk beklemtoon is, bly die kernvraag of die begroting die praktiese middele sal verskaf om die land se grootste struikelblokke daadwerklik aan te spreek.
Die primêre verantwoordelikheid van enige regering is om ’n veilige omgewing vir sy burgers en werksplekke te verseker. Sonder veiligheid bly ekonomiese groei, belegging, landbouproduksie en werkskepping bloot teoretiese doelwitte. Die vraag wat TLU SA daarom aan die minister stel, is of die komende begroting werklik die nodige voorsiening sal maak om wetstoepassingsinstansies soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te herstel, te suiwer en te versterk sodat hulle weer professioneel, betroubaar en vertroubaar kan funksioneer. Dit sluit voldoende befondsing in vir goed opgeleide personeel, die nodige kundigheid en logistieke ondersteuning om hul werk effektief te verrig.
TLU SA erken dat infrastruktuur, opleiding en die verbetering van staatskapasiteit noodsaaklike komponente van ekonomiese herstel is. Die kernvraag bly egter of die beskikbare fondse in vorige begrotings werklik aangewend is vir die doel waarvoor dit bestem was, en of daar die regte kundigheid en bestuursvermoë in plek is om optimale waarde vir elke rand te verseker. Suid-Afrika kan hom nie langer bekostig om begrotingsbeloftes te maak sonder meetbare uitkomste en tasbare verbetering op grondvlak nie.
TLU SA wil verder beklemtoon dat vuisvoos belastingbetalers eenvoudig nie nóg finansiële skokke kan absorbeer nie, veral nie in ’n ekonomiese klimaat waar groei stagneer en die druk op huishoudings en ondernemings reeds ondraaglik hoog is nie. Indien daar by belastingbetalers die persepsie, of erger nog, die werklikheid, bestaan dat fondse nie verantwoordelik, doelmatig en met die nodige toesig aangewend word nie, ondermyn dit vertroue in die fiskale stelsel en die staat self.
“Ons moet eerlik wees oor ons realiteit,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Daar is oor drie dekades heen ’n sistemiese kapasiteitsprobleem in die staatsdiens geskep. Ons gaan nie vordering maak indien prestasie, aanspreeklikheid en ’n sin vir dringendheid nie die grondslag vorm van hoe fondse aangewend word nie. Dit help nie geld word begroot nie, dit moet reg en doelmatig aangewend word in belang van Suid-Afrika.”
TLU SA doen daarom ’n ernstige beroep op die minister om in sy begrotingsrede nie slegs nuwe aankondigings te maak nie, maar duidelike meganismes vir implementering, toesig en aanspreeklikheid uiteen te sit. Sonder daadwerklike verbetering in veiligheid en staatskapasiteit sal ekonomiese herstel en landbou-ontwikkeling bloot op papier bly bestaan.



