Die president van TLU SA, Henry Geldenhuys, het van TLU SA se jaarlikse mediafunksie op 20 November 2023 gebruik gemaak om eerlik te wees oor die werklikheid van landbou in Suid-Afrika terwyl hy die media bedank het vir die rol wat hulle in die bevordering van landbou speel.
Om eerlik te wees oor ons werklikheid en ʼn standpunt in te neem teen die sake wat negatiewe gevolge vir ons toekoms kan hê was tydens die mediafunksie beklemtoon. “Suid-Afrika is tans nie op ʼn goeie plek nie en ons landbou-industrie gaan onder die bestuur van die nasionale regering daaronder lei. Enige persoon wat eerlik met hom- of haarself is, besef dit,” het Geldenhuys tydens die mediafunksie gesê.
“Ons toekoms moet nie bepaal word deur diegene wat afbreek en vernietig nie, maar deur hulle wat sterk fokus op ekonomiese groei en die bou van ons toekoms. Ons moet teen die aanvaarding van hierdie situasies waak,” het Geldenhuys gesê.
Landbou is ʼn ekonomiese proses waar die laaste woord altyd deur die markkragte gespreek moet word. Dit is uiters kortsigtig om enige ideologiese of politieke uitspraak blindelings te aanvaar sonder om dit teen die markte te toets. Indien dit duidelik is dat die markte dit verwerp, moet ons eerlik en verantwoordelik wees en herbesin. Volgens TLU SA se oordeel is daar eenvoudig te veel ondersteuning vir regulasies wat reeds bewys het dat dit faal. Dit sluit die hele transformasie-agenda in, wat kaderontplooiing, korrupsie, SEB en onwettige wanbesteding en selfverryking insluit.
“Suid-Afrika het weer vertroue nodig in ons stelsels, maar dit moet realistiese vertroue wees, gebaseer op waardes wat sinvolle en praktiese uitkomste lewer en ekonomiese groei bevorder. In daardie gees moet ons die toekoms optimisties, in ooreenstemming met ons kultuuropdrag en talente volledig benut en benader. Wanneer ons reg doen, is dit ʼn positiewe proses waar ons streef na verbetering, nie net as individue nie, maar ook as organisasies wat ʼn gevoel van trots oor wat ons verteenwoordig, teweegbring. Vandag is daar dankbaarheid teenoor TLU SA, wat voortdurend die stem van redelikheid en eerlikheid was en sal bly,” het Geldenhuys aangevoer.
Ter afsluiting van die mediafunksie het Geldenhuys ‘n beroep op die media gedoen om saam met TLU SA altyd eerlik oor die werklikheid in Suid-Afrika te wees. “Dit is ‘n goeie beginpunt om oplossings vir die verskeidenheid onaanvaarbare probleme in Suid-Afrika te vind. TLU SA kies om positiewe uitkomste te bevorder – help ons om dit in belang van elke inwoner van die land te bereik,” het Geldenhuys afgesluit.