Hoewel dit nie nuus is wat aan die groot klok gehang word nie, verneem TLU SA met groot kommer dat die Staatskoerant-kanale tans nie na behore werk nie.
“Dit is ’n aangeleentheid wat al geruime tyd ongesiens verbygaan, maar tog elke inwoner in die land raak,” het mev. Erika Helm, TLU SA Voorsitter: Plaaslike Regeringskomitee gesê.
“Baie aangeleenthede wat ’n impak op ons daaglikse bedrywighede het veral in terme van regulasies en wetgewing, word bekend gemaak en gepromulgeer in die Staatskoerant wat dit dan ’n wettige aksie maak. Die Staatskoerante is beskikbaar deur die Staatsdrukkery (Government Printing Works) en daar is twee webtuistes wat die inligting gratis beskikbaar gestel het. Die een webtuiste het reeds verlede jaar nie meer enige Staatskoerante gepubliseer vir die publiek nie, en die ander drukkery het sedert 28 Januarie 2022 geen toegang verleen nie.”
Dit is vir TLU SA baie belangrik om deurentyd op hoogte te wees van sake wat ’n impak op die landbouer sal hê sodat die inligting so gou en volledig moontlik aan lede deur gegee word. Prioriteit sake is verseker die publikasie van grondeise. Promulgering van plaaslike regering se wettige aksies vorm ook ’n groot deel van hierdie inligting.
“Ek het die staatsdrukkery probeer skakel en daar is nie eers antwoord nie. Een van my kollegas het ook probeer, maar daar is net geen antwoord by die kantore nie. In terme van die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid, 2000 is die wetgewing daarop gerig om ’n regverdige en billike administratiewe aksie daar te stel wat moontlik enige persoon se regte mag benadeel. ’n Administratiewe aksie wat enige persoon mag raak moet ’n geleentheid gegun word om daarop te reageer. Indien die staatsdrukkery nie die Staatskoerante beskikbaar stel nie, word hierdie geleentheid van die inwoner van die land ontneem. Die wetgewing bepaal ook daar moet spesifieke stappe geneem word om die inligting beskikbaar te stel. Dit is onbillik en onregverdig om enige inligting wat ’n gebruiksreg daargestel het dat dit beskikbaar is teen geen koste, nou teen kostes af te dwing.”
Mev. Helm voeg by: “Ek beskou hierdie as ’n baie belangrike aangeleentheid aangesien die regering hierdie geleentheid kan gebruik om wetswysigings deur te voer sonder dat ons die geleentheid gegun word om kennis daarvan te neem of om daarop te reageer. Die mense besef nie hoe belangrik hierdie inligting is nie. Dit moet definitief aangespreek word dat die regering nie sy plig teenoor die inwoners van die land nakom nie. Die Grondwet bepaal duidelik in paragraaf 32 van die Handves van Regte dat elke persoon die reg het tot inligting wat deur die staat gehou word en enige inligting wat benodig word in die uitvoering of beskerming van enige regte.”
Volgens mev. Helm moet die staat verduidelik wat is die regstellende aksies wat geneem sal word en die tydperk wat dit sal neem. “Die staat moet ook in kennis gestel word dat die inligting wat nie aan die publiek beskikbaar was nie, nie deel sal uitmaak van enige tydperk of geleentheid wat gegun moet word waarin enige persoon sy regte kan uitoefen nie.”





