‘n Groenteboer van die Koedoesrand distrik by Maasstroom in Limpopo het tydens TLU SA se jaarlikse Kongresdinee weggestap met ‘n oorsese reis na Frankryk en ‘n ruim kontantprys.
Henna du Plessis het sewe ander finaliste van regoor die land uitgestof toe hy op 18 September as die TLU SA / Old Mutual Insure Agri / Manitou / Mahindra-Jongboer van die Jaar kompetisie aangewys is.
“Dit was hierdie jaar besonder moeilik om tot ‘n besluit te kom oor wie die wenner moes wees,” sê mnr. Bennie van Zyl, die Hoofbestuurder van TLU SA en ook een van die beoordelaars. “Henna se spanwerk op die plaas sowel as sy passie vir die landbousaak, sy gemeenskapsbetrokkenheid en sy lojaliteit teenoor TLU SA maak hom ‘n waardige wenner.”
Henna (33) – wat al vir byna die helfte van sy lewe boer – boer benewens groente ook met wild op die plaas Rockferry.
Familie is vir hom baie belangrik en sy grootste droom is om nog ‘n plaas te besit en die boerdery uit te brei om ‘n goeie lewe vir sy gesin te gee. Hy en Candice se eersteling is onlangs gebore.
“Ek sal graag onthou wil word as ‘n eerlike persoon wat altyd sal help en graag betrokke wil wees,” sê hy.
Henna is ‘n lid van TLU SA se dinamiese Jongboerkomitee wat fondsinsamelings vir die Traumafonds dryf en tydens die kongres ‘n bedrag van R30 000 vir hierdie doel kon oorhandig.
Hy het altyd ‘n maatband en gereedskapskas in sy bakkie, verkies ‘n skaaptjoppie bo ‘n steak en dra soos die meeste boere eerder ‘n kortbroek as langbroek. Henna sê dat sy pa sy rolmodel is, hoewel hulle manier van beplan heeltemal verskil.
En op die vraag oor wat jy nie met ‘n tang en draad kan regmaak nie, is sy antwoord vinnig en eenvoudig: “liefde”.
AJ Wohlfarht (34) van Wohlfarht Pluimvee in Gauteng naby Magaliesburg is as die naaswenner aangewys. Hy boer met pluimvee.
In die derde plek het Lukas Eksteen (33) van Buffelsfontein in Mokopane (Naboomspruit), Limpopo sy plek ingeneem. Hy boer met beeste en spesifiek Bonsmara.
Die ander finaliste was:
Azelle (29) en Neels Uys (30) van Platkoppie in Heidelberg by Suikerbos. Hy is ‘n saaiboer en sy boer met beeste en skape;
George en Stephan Cloete (29 en 28) van die plaas Holbank in Ermelo, Mpumalanga. Hulle boer met skape, mielies en sojabone;
Stefan Landman (33) van Dagwacht in Groenvlei in die noorde van KwaZulu-Natal (Wakkerstroom/Utrecht omgewing). Hy boer met skape, beeste, sojabone en mielies; en Wynand Louw (28) van Nooitgedacht in Limpopo in die Soutpansberg Distrik. Hy boer met Boran beeste en macadamia neute.
“Die kwaliteit van hierdie jong boere skep vir ons hoop vir die toekoms van landbou in Suid-Afrika,” sê mnr. Van Zyl. “Die uitnemendheid van elke finalis se boerdery is noemenswaardig en elke kandidaat het hom- en haarself in hulle spesifieke bedryf onderskei.”