Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

TLU SA is nie tevrede dat kommersiële boere aanhoudend oorgesien word wanneer hulp van die regering aangebied word nie.
 
Die Minister van Landbou, Grondhervorming en Plaaslike Ontwikkeling, me. Thoko Didiza het vandag aangekondig dat haar departement tydens die COVID-19 inperking hulp ten bedrae van R1,2 miljard aan kleinskaalboere (met ‘n jaarlikse omset van tussen R50 000 en R1 miljoen) sal bied. Vroue- en jeugboere, en boere met gestremdhede sal voorkeur geniet. Daar is ook net sekere kommoditeitsektore wat sal kwalifiseer om vir die befondsing aansoek te doen.
 
“Dit is betreurenswaardig dat kommersiële boere, wat ‘n kardinale rol speel om voedsel te voorsien en sodoende kosnood en anargie bekamp, altyd aan die kortste end trek,” sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA. “Hoe moet ons die kommersiële boer motiveer om ten spyte van die risiko van blootstelling aan die koronavirus, voort te gaan om te produseer, terwyl die regering niks doen om hulle te help nie?”
 
Bykans 70% van die Suid-Afrikaanse bevolking woon in stede en is afhanklik van kommersiële boere as voedselbron. Die groep boere wat nou bevoordeel gaan word, verskaf – volgens die mees onlangse Landbousensus – maar net 1,9% van die land se voedsel.
 
“Kommersiële boere, die land se grootste bate, gaan ten spyte van die inperking steeds gebuk onder misdaad en selfs plaasaanvalle,” sê mnr. Meintjes. “Ons veiligheidspatrollies word ingeperk en ons is nou afhanklik van die oorlaaide SAPD – wat beslis nie nou die kapasiteit het hiervoor nie – vir beskerming. Maar tog gaan hulle voort met hulle daaglikse take. Ons boere verdien beter.”
 
Landbou kan in die tyd ‘n verskil maak. Dit is nou die ideale geleentheid vir die onderskeie regeringsinstansies wat met hierdie programme werk, om uit te reik na landbou-organisasies om vas te stel hoe hulle van hulp kan wees en watter ondersteuning hulle nodig het.