Suid-Afrika bloei en steeds het die SAPD besluit om die Landelike Veiligheidsberaad vir die tweede keer uit te stel en dit wys duidelik dat nie die polisiediens of die regering ernstig genoeg is oor plaasaanvalle en -moorde nie.
So praat TLU SA se president mnr. Henry Geldenhuys nadat hy ingelig is oor die uitstel van die veiligheidsberaad wat einde van die maand moes plaasvind. Dit is die tweede keer wat dit uitgestel is.
“Dit is nou geskeduleer vir Augustus, maar die sewe komitees wat saam met die SAPD die beraad belê het, is nie so seker dat dit dan sal plaasvind nie. Die uitstel van die beraad en die feit dat die landelike veiligheidsplan nog nooit geïmplementeer is nie, wys net dat ons land se regering en polisiediens duidelik nie die wil of die vermoë het misdaad aan te spreek nie,” het mnr. Geldenhuys gesê.
“Die land is besig om in duie te stort. En die kamstige pogings wat die SAPD aanwend om te wys hy hanteer plaasaanvalle en -moorde as ’n prioriteitsmisdaad blyk oë verblindery te wees. Dié optrede wys die kamstige ‘erns’ van die regering en die polisie ten opsigte van plaasaanvalle.”
Met die onlangse bekendstelling van die eerste kwartaal se misdaadsyfers, is dit duidelik dat die misdaad-situasie in Suid-Afrika buite beheer is. Dit is nie net moord en verkragting wat ’n bekommernis is nie, maar ook veediefstal wat al hoe erger word in die manier en getalle wat dit plaasvind. Dit word al hoe duideliker dat veediefstal ’n groot en georganiseerde bedryf is met groot geld op die spel.
“As die landelike veiligheidsplan net geïmplementeer word en die SAPD net die Veiligheidsberaad laat geskied, gee ons klaar twee reuse-tree in die regte rigting, maar ek sit met my hande in my hare oor ons polisiediens se onvermoë, onwilligheid en skynbare ongeërgheid.”