Beleidsonsekerheid, onteiening sonder vergoeding en ekonomiese onstabiliteit kan Minister Tito Mboweni se goeie voornemens met die ekonomie stuit. Só meen TLU SA, nadat Mboweni op 27 Augustus die tesourie se beleidsdokument oor die ekonomie bekendgemaak het.
Die TLU SA meen dat sekere aspekte van die plan inderdaad voordelig vir die land kan wees en Mboweni se planne om produktiwiteit en uitvoere te verhoog is veral verblydend. Hierdie planne moet egter steeds uitgevoer word binne die uiters onstabiele omgewing wat oor jare deur die ANC-alliansievennote gevestig is.
Die volgende aspekte moet aangespreek word alvorens Mboweni se voorstelle werklik vrugte kan werp:
- Die algehele beleidsonsekerheid wat deurlopend deur die drie-party-alliansie uitgestraal word, skep nie die vertroue wat nodig is om beleggers en entrepreneurs aan te moedig om tot só ’n mate betrokke te raak in die ekonomie, ten einde die basiese aspekte van Mboweni se plan te implementeer nie. Die ANC het nodig om onomwonde aan die wêreld te bewys dat hulle sosialisme en kommunisme verwerp, aangesien internasionale rolspelers lank reeds geleer het dat hierdie konsepte nie volhoubaar is nie.
- Die ANC-alliansie moet die konsep van grondonteiening sonder vergoeding openlik verwerp en die beginsel van privaat besitreg ondersteun. Indien die ANC voortgaan met grondonteiening sonder vergoeding, sal hulle aandadig wees aan die steeds groeiende werkloosheidsyfer en vlakke van armoede wat jaarliks onder hul bewind toeneem.
- Volhoubare ekonomiese groei is slegs moontlik binne ‘n stabiele, misdaadvrye omgewing. Die ANC as “struggle”-beweging het ’n kultuur geskep van vernietiging en opeising, eerder as om nuut te skep en te bou. Die gedurige gewelddadige stakings waartydens betogers maklik plunder en vernietig, is die bed wat die ANC vir homself opgemaak het.
- Die meulsteen van die SAKP verhoed die ANC om beleidsrigtings daar te stel wat voordelig is vir die ekonomie. Cosatu misbruik boonop die werkers vir hul eie politieke posisionering en plaas elke werknemer se toekoms daagliks op die spel, deur aan te dring op onvolhoubare salarisverhogings. Die vakbonde sal vinnig moet leer dat rykdom nie iets is wat bloot beskikbaar is nie, maar geskep moet word. Hulle moet ook besef dat arbeiders se werk toenemend bedreig word deur tegnologiese hulpmiddels en meganisasie. Die vierde industriële rewolusie bied oplossings vir gevorderde effektiwiteit. Indien arbeiders die grootste hindernis is vir die effektiewe bestuur van ‘n besigheid deur gedurig te staak en só die produksieprosesse kontamineer, kan hulle sélf veroorsaak dat werkgewers hulle toenemend na tegnologiese oplossings vir arbeid wend.
- Die ANC se beleid van SEB en regstellende aksie veroorsaak dat talle kundiges jaarliks die land verlaat, omdat hulle meen die regering skep nie vir hulle voldoende geleenthede nie. Die regering moet gebruik maak van die uitnemende kundigheid wat die land bied, eerder as om mense op grond van hul geslag of velkeur aan te stel.
Dit is duidelik dat die ANC en sy vennote die grootste bedreiging geword het vir die toekoms van Suid-Afrika en sy mense.
TLU SA is dankbaar vir Mboweni se heldhaftige poging tot ekonomiese groei, maar glo dit is gedoem tot mislukking, tensy die ANC en sy alliansievennote tot orde geroep word en ontslae raak van skadelike beleide wat ekonomiese groei verhinder.
Uitgereik deur: TLU SA
Datum: 3 September 2019
Navrae: Mnr Louis Meintjes, President TLU SA,
Sel.: 082 461 7262
Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA,
Sel.: 082 466 4470