TLU SA stel graag die Plaashuise Register bekend om boere wat in nood verkeer by te staan met verblyf.
Dié inisiatief spruit uit ‘n idee van mnr. Bertus van der Westhuizen, die Voorsitter van TLU SA: Vrystaat, om ʼn register van leë bewoonbare plaashuise saam te stel waar boere moontlik ‘n tussentydse heenkome kan vind.
“Dit is ‘n gegewe dat daar ‘n klomp boere in die proses van uitwinning is,” sê mnr. Van der Westhuizen. “Dit is ook ‘n gegewe dat niemand teen die kragte van die natuur kan baklei of vrywaring teen natuurrampe ontvang het nie. Rampe kan enige boer, groot of klein, tref en tot noodlottige toestande lei.
“TLU SA is opreg bekommerd oor die toekoms van hierdie boere. Van hulle het ‘n heenkome, maar ander nie. Dit is nie binne die organisasie se vermoë om elkeen van hierdie boere finansieel by te staan nie, maar daarom vat ons graag hande met ons gemeenskap om oplossings te vind.”
Die Plaashuise Register sal by TLU SA se Hoofkantoor bygehou word om boere en weldoeners se persoonlike inligting te beskerm.
Wanneer TLU SA in verband met noodbehuising genader word, sal die organisasie dan as tussenganger optree om die betrokke partye met mekaar in verbinding te plaas. Daarna sal die partye self met mekaar onderhandel. TLU SA sal geen verantwoordelikheid aanvaar vir die proses nie en sien dit as ‘n private aangeleentheid.
Enige belangstellendes kan die Sekretaresse van die Hoofbestuurder van TLU SA, Elanza Joubert skakel by 012 804 8031 of ‘n e-pos stuur aan sekretaresse@tlu.co.za.
Uitgereik deur: TLU SA
Datum: 15 Augustus 2019
Navrae: Mnr Bertus van der Westhuizen, Voorsitter TLU SA: Vrystaat,
Sel.: 082 571 5180
Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA,
Sel.: 082 466 4470