‘n Ope brief aan die boere van Suid-Afrika

Beste Boere van Suid-Afrika,

In die aangesig van meedoënlose teenkanting skyn julle toewyding helderder as ooit tevore. Terwyl julle sorg vir jul lande en vee, en uitdagings wat min kan begryp trotseer, weet dat julle nie alleen is nie. TLU SA staan saam met julle, onwrikbaar in ons ondersteuning en solidariteit.

Suid-Afrika is onder druk, of daar kan amper gesê word, onder beleg, van ‘n beleid waarvan die uitkomste nie positief is nie. Ons moet ‘n paar aspekte in gedagte hou:

  • Die beleidsomgewing waarbinne ons moet boer is gewis nie gunstig nie en skep nie die nodige vertroue sodat daar onbevange beleggings in ons land gemaak word nie.
  • Die hitte-eenhede se impak, gepaardgaande met die droogte wat groot dele van ons land op ‘n kritieke groeityd getref het, het op vele plase uiters negatief ingespeel.
  • Die onrealistiese beloftes wat in aanloop tot die verkiesing gemaak word, skep nie noodwendig stabiliteit nie.
  • Kernbelangrike aspekte soos veiligheid en goeie infrastruktuur, wat kragvoorsiening insluit, is besig om te taan in stede om die broodnodige positiewe verskil wat ons land nodig het te maak.

Te midde van hierdie stand van sake is ons boere steeds daagliks besig om hul dagtaak met buigsaamheid aan te durf en planne om te kan produseer te maak.

Ons verstaan die ontelbare ure wat julle in jul lande giet, die opofferinge wat julle maak, en die risiko’s wat julle dapper neem. Julle toewyding onderhou nie net jul gesinne nie, maar ons land se mense in geheel. In hierdie roerige tye is julle rol as voedselprodusente van die land meer noodsaaklik as ooit. Kos op die tafel is die resultaat van jul toewyding wat gewis gesien kan word as sekerlik die belangrikste stabiliseerder in ‘n deurmekaar land.

As rentmeesters van die bodem waarmee jul as boere werk is jul benadering en ingesteldheid ‘n voorbeeld vir vele oor hoe moet ons daagliks ons kultuuropdrag beoefen. Die geloofspad waarop die boere stap bring daagliks realistiese hoop wat keusemaking positief rig.

Ons erken die ontberings wat julle verduur, van ekonomiese druk tot die bedreiging van geweld en onsekerheid. Jul moed in die aangesig van uitdagings inspireer ons almal. TLU SA is verbind daartoe om vir jul regte te pleit, te verseker dat jul stemme gehoor word, en te veg vir die beskerming van jul lewensbestaan.

Terwyl julle voortgaan om te werk onder die Afrika-son, weet dat jul pogings nie ongesiens verbygaan nie. Julle is die ruggraat van ons landbou-sektor, die hartklop van ons land se ekonomie en die rentmeesters van ons voedselsekerheid.

Laat ons as ‘n eenheid saamstaan, skouer aan skouer, terwyl ons die toetse wat voorlê aandurf. TLU SA is hier om julle elke tree van die pad te ondersteun, om vir jul regte te pleit, jul saak te bevorder, en onverpoos te werk om ‘n helder toekoms vir Suid-Afrikaanse landbou te verseker. Landbou móét
seëvier.

As ‘n blye van erkenning en waardering, wil ons graag ‘n gebed deel wat deur ‘n boer in Namibië, Pieter, geskryf is:

“As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid… “
Jak. 5: 13

“Hemelse Vader en almagtige Here, dit is 2 uur in die môre, en ek kan nie slaap nie. In 21 jaar wat ek boer was dit nog nooit so droog nie. Ek is vanmôre voor U om te bid
vir reën.

Maar voor ek vir reën vra, moet ek U eers dank vir droogtes. Indien ons net vet jare en voorspoed gehad het, hoe arrogant, onafhanklik van U, en onbewus van U goedheid en genade, sou ons nie gelewe het nie. Daarom moet ek U ook dank vir die voorreg om hier te kan boer. Hier waar ek elke dag U handewerk sien en ervaar. Baie dankie ook, Here, vir die wonderlike mense wat u rondom my in hierdie wêreld geplaas het. ‘n Unieke groep mense wat almal saam in dieselfde stryd gewikkel is. U het elkeen persoonlik gevorm, met elkeen se uniekheid, harder as kameeldoringhout, om hier te kan bestaan.

Om die mooi van hierdie boerdery te beleef, het U ‘n besondere liefde vir die diere en die boerdery in my hart geplant, en daarvoor is ek U baie dankbaar. Maar Liewe Heer, dit is as gevolg van hierdie liefde, en my menslike nietigheid en tekort aan insig, wat maak dat ek U weë nie
verstaan nie.

…ek verstaan nie wanneer die lammerooi aan die voet van die duin omval as gevolg van swakheid, en nog steeds net oor haar lam se welstand bekommerd is nie.

…ek verstaan nie as die koei met ‘n sug gaan sit en ons altwee weet sy sal nooit weer opstaan nie.

…ek verstaan nie as ek in die onskuldige bruin oë van die verswakte koedoe-koei wie se voet in die draad vasgehaak het kyk, en sien sy wag op die verlossing van die dood, wat uiteindelik deur dors en hitte- uitputting onder die skroeiende woestynson, veroorsaak sal word nie.

…ek verstaan nie as ek “hart-se-punt” koeie by die slagpale moet aflaai, en nog onthou hoe hulle kalwers gelyk het, en selfs hoe ek sommige van hulle as klein kalwertjies onthoring het nie.

…ek verstaan nie as jong eerstelam-ooitjies net ribbes en gekoekte wol is en ek vaagweg kan onthou hoe glad-verhaarde ooi lank gelede vir haar vet lammetjie geblêr het terwyl die komkommersap teen haar wang afloop.

…ek verstaan nie as my ryperd een oggend stokstyf opstaan as gevolg van elke aand se kragvoer, omdat daar niks meer hooi in die veld is wat hy bedags kan vreet nie.

…ek verstaan nie as ek die donkie dood langs die pad sien lê, nog in die tuig, en ek weet sy eienaar het ook maar nie ‘n plan gehad nie.

…ek verstaan nie as die groot springbokram struikel-struikel voort sukkel nie.

…ek verstaan nie as die erdvark, wat ‘n nagdier is, in die middel van die dag, vermaer en verdonker, op die warm rooi sand rondploeter op soek na iets om te eet nie.

…ek verstaan nie dat graspolle, die bron van kos, in klein swart knoetsies verander het, sodat die wind hulle wortels oopkalwe en die woestynson hulle verdroog en verskrompel nie.

…ek verstaan nie as die windpomp net wind blaas nie, omdat die boorgat opgedroog het, terwyl my verstand verdof is deur ‘n wolk stof en ‘n gebulk en geblêr wat deur my bene en murg sny…

Here, ek verstaan nie hoekom U dit oor hierdie onskuldige diere laat kom, terwyl U vir my, sondaar, net goedheid en guns gee nie. Here ek verstaan dit nie, maar ek weet wel dat ek nooit die straf wat ek verdien, sal kan dra nie. Daarom, voor ek vir reën vra, smeek ek om U genade en vergifnis.

Ek bid ook vir wysheid om tussen goed en kwaad te kan onderskei en dan die goeie te kies. Ek bid dat ons U Koningkryk en U geregtigheid EERSTE sal soek, soos Matt. 6: 33 dit duidelik vir ons sê: “…beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Ek bid veral, Here, dat ek nooit arrogant sal word nie, want alle eer kom U alleen toe. Ek bid ook vir wysheid en krag vir die gemeenskap om op die regte manier deur hierdie droogte te kom. Ek verstaan nog steeds nie hoe die gemsbok in hierdie tyd so sterk kan bly nie, maar ek bid dat U ons almal die gemsbokke van hierdie droogte sal maak.

Here, nou dat U my hart ken, smeek ek by U: “Gee asseblief vir mens en dier en plant
en grond milde reën.
Dankie Here.
Amen”

Landbou groete
TLU SA

Kategorie:

Deel dit:

‘n Ope brief aan die boere van Suid-Afrika

Windscreen Masters

Enige lid/vriend wat deur Windscreen Master hul ruit laat vervang, kan dit op die plek van sy keuse laat doen. Windscreen Master hanteer ook die skakeling met die lid/vriend se makelaar/versekeraar asook die registrasie van die eis indien van toepassing.

Verco Energy

Verco Energy lewer goedkoper diesel aan TLU SA affiliasies/lede/vriende in sekere afleweringsgebiede.

Timac Agro

Spesiale aanbiedinge om kunsmis teen beter pryse aan te koop, slegs vir TLU SA-lede.

Relevante artikels

NBM

TLU SA se ooreenkoms met NBM bepbaal dat TLU SA affilliasies/lede/vriende afslag ontvang op verskeie versekeringsprodukte

Hendrik de Swardt

082 852 8039

Philippie de Beer

083 230 4583

Relevante artikels

LWO

Die LWO ondersteun boere as werkgewers in alle aspekte rakende arbeidsregwetgewing.

MarketVest

MarketVest maak gebruik van gevestigde, gekontrateerde groenkaart tegniese kontrakteurs regoor die land wat vinnig hulp kan verleen met aanbevelings en installasies. Vir elke suksesvolle afgehandelde installasie wat deur TLU SA na MarketVest verwys word, ontvang TLU SA ʼn verwysingfooi.

Firearms Guardian

Firearms Guardian is ’n unieke korttermynversekeringspakket vir vuurwapeneienaars. Dit bied dekking teen regskostes en aanspreeklikheidseise, wat spruit uit selfverdediging, skiet-ongelukke, strafregterlike vervolging, jagtogte wat skeefloop, sportskiet-ongelukke, en vele meer.

Finco Finance

Finco Finance ondersteun TLU SA-lede met finansiering by handelsbanke.

Pitkos

Die Pitkos is TLU SA se nuusbrief slegs vir lede. Hierin gee ons vir lede inligting oor die aksies waarby ons betrokke is, standpunte wat ons inneem, spesiale aanbiedinge wat vir lede beding is, opkomende geleenthede en waardevolle inligting soos aankondigings in die Staatskoerant wat op landbou betrekking het.