Die begrip rewolusie het – afhangend van wie dit spreek – verskillende beskouinge en al die verskillende definisies sal gewis ook as aanvaarde sienings kan geld. Met hierdie skrywe wil ek egter fokus op die samelewingsorde en die wyse hoe dit deur middel van ’n rewolusie verander gaan of kan word. Die omwenteling om ’n as is dus nie vir hierdie bespreking van toepassing nie.
Dat daar ’n geweldsfaktor aan “rewolusie” gekoppel word is ’n gegewe. Dit is dan uiters onvanpas om dié begrip binne ’n demokratiese land as die aangewese metode van verandering voor te stel. ’n Rewolusie kan inderdaad gesien word as die omwenteling van die bestaande gesag deur middel van opstand en geweld.
Ons het kennis geneem van die president van Suid-Afrika, mnr. Cyril Ramaphosa, se uitspraak oor rewolusie tydens die ANC Jeugliga se konferensie by Nasrec op 2 Julie 2023:
“The ANC may eventually lose the ability to grow and to renew itself. So, therefore, I call upon you to return to the militancy of the ANC Youth League of the 1944 era, to go back to the militancy of the ANC Youth League of the ’80 and the ’90s. This is your heritage. That is where you belong, that is where we want to see the ANC Youth League returning to. We don’t want to see an ANC Youth League that is docile, we don’t want to see an ANC Youth League that is asleep during a revolution. You are the revolution.”
Ons is ver in die pad af indien die staatshoof van ’n land ’n rewolusie predik deur sy volgelinge aan te moedig om dan met geweld die bestaande orde omver te kom gooi. Wat moet mens hieruit aflei?
Mnr. Ramaphosa is dit teenoor die wetsgehoorsame burgers van die land verskuldig om te verduidelik teen wie hierdie rewolusie wat hy aanmoedig gemik is. Indien dit teen iets anders as die staat is, erken mnr. Ramaphosa dat daardie iets anders in beheer is en dat hulle as regering dus eintlik nie die regeringstoele verder mag warm sit nie.
Die groot probleem vandag is dat ons steeds met ’n rewolusionêre organisasie te doen het wat geen begrip het oor wat dit beteken om te regeer nie, maar steeds rewolusie-rewolusie speel teen die een of ander denkbeeldige vyand wat hulle erg bedreig. Die waarheid is veel eerder dat hul eie onvermoë om te kan regeer hul eie grootste bedreiging is. Hulle is deurlopend besig om allerlei afleiers daar te stel wat die aandag van hul onvermoë moet weglei.
As ons kyk na die momentum van rasgebaseerde wetgewing om die weglaatbare-klein groepering van wittes aan bande te lê, is daar net een slotsom; dat kundigheid en sukses in besigheid die ANC ernstig bedreig. Ironies is dit juis hierdie groepering waarteen daar op elke moontlike wyse geveg word, wat grootliks toesien dat daar iets in die staatskas is wat gebruik (lees misbruik) kan word.
Die feit dat kiesers dit enigsins nog oorweeg om hul kruisie agter die rewolusionêres te trek om die toekoms met daardie gedagtegang tegemoet te gaan, sê ook baie van die kiesers van Suid-Afrika.
Die kultuur van rewolusie wat die president van die land predik is vernietigend en afbrekend met geen toekoms vir die jeug van ons land nie. Sulke tipe opmerkings herinner mens aan die 1976 onluste-tyd waartydens die slagspreuk “liberation before education” aan die orde was. Dit dui ook duidelik daarop dat hul – onder die goedkeurende oog van die president – steeds besig is met een of ander “liberation.”
Hoe pateties is ’n regering wat na bykans 30 jaar in die stoel steeds rewolusie predik!
Mnr. Ramaphosa – ons land het ekonomiese groei nodig om al die sosio-maatskaplike probleme wat jul beleid veroorsaak te kan aanspreek. Om infrastruktuur te skep en in stand te hou wat tydens julle regeringstydperk vernietig is. Om sinvolle en hoë-kwaliteit onderrig daar te stel en mense te leer dat die lewe hulle niks skuld nie – jy sal slegs positiewe resultate sien wanneer jy verantwoordelikheid aanvaar vir wat die lewe van jou vereis, skouer aan die wiel sit, hard werk en van jou “demanding culture” afsien.
Dit beteken dat die eenvoudige ekonomiese reëls soos in Ekonomie 101 uiteengesit word, konsekwent toegepas moet word, maar duidelik is dit te veel gevra. Ons kies eerder om dit wat die privaatsektor nog in stand hou, met belaglike rewolusionêre beleidsrigtings ook te vernietig. Die invloed van jul beleidsrigting speel direk in op elke inwoner van ons land se toekoms. Dit wat jul najaag het nog nooit enige ander uitkoms as hartseer en armoede veroorsaak nie.
Die jeug wie se geleenthede deur jul beleidsbenadering en “rewolusie” van hul gesteel word, gaan in die toekoms by die punt uitkom waar hulle besef die skuld vir die staat se mislukking vierkantig op die ANC geplaas kan word. In alle eerlikheid mnr. Ramaphosa – die uitkoms van die ANC se beleid het reeds ver te duur geword vir elke Suid-Afrikaner wat nie deel van jul kaders is nie.
Deur Bennie van Zyl, hoofbestuurder: TLU SA



