James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Ontwikkeling vir ekonomiese groei gekniehalter

Die President wil hê dit moet vir Suid-Afrikaners makliker wees om besigheid te doen om ekonomiese groei aan te moedig, maar wat op die grondvlak gebeur is heeltemal teenstrydig hiermee.
 
“Een van ons lede in Bronkhorstspruit wil agt hoenderhuise oprig. Elke huis is 2227 vierkante meter. Die stadsraad vereis R19.00 per vierkante meter net om sy bouplanne in te dien vir goedkeuring,” het Mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder gesê.
 
“Dit is ’n belaglike bedrag geld wat betaal moet word vir die goedkeuring van ’n leë struktuur net om te kan produseer ten einde aan die behoefte van die voedselproduksie ketting te voldoen. Dit is ’n voorbeeld van hoe plaaslike regering die doen van besigheid, bemoeilik. Dié boer moet R338 500 betaal om deur hierdie proses te gaan en dan is daar nog die kostes van oprigting, infrastruktuur en produksiemiddele. Wat President Ramaphosa wil hê, is beslis nie wat op grondvlak gebeur nie. Dié stand van sake is gewis nie ’n stimulus vir enige iemand om in produksie te gaan om voedsel te produseer nie.”
 
Mnr. Henry Geldenhuys, TLU SA President, het verder gegaan en verwys na kostes as ’n boer sy plaas wil verkoop.
 
“Die beginsel geld ook as die grond verkoop word. Die boer moet dan vir elke struktuur ’n plan – opgetrek deur argitek – indien vir goedkeuring en daaraan is kostes verbonde. Landbou is kardinaal in die ekonomiese groei van die land, maar om elke hoek en draai word dit vir boere moeilik gemaak.”
 
Om formeel besigheid te doen behels om deur baie regulerende rompslomp te werk. Volgens SPLUMA (Ruimtelike Beplanning en Eiendom Gebruik bestuurswetgewing no 16 van 2013) moet die aansoeker van ’n formele besigheidslisensie die ontwikkeling en geassosieerde kostes dra en soms nog ’n boete van honderde rande ook betaal as daar weens waninligting nie aan alle aspekte voldoen word nie, dit alles om net tot ekonomiese ontwikkeling by te dra. 
 
SPLUMA se standaarde verwys spesifiek na die rol van die privaatsektor om ontwikkeling te bevorder met die oog op werkskepping en voedselsekerheid.  Dit lyk egter asof hierdie boodskap nie by munisipaliteite uitgekom het nie in die lig van die uitermatige finansiele struikelblokke wat ontwikkeling kniehalter. 
 
Die Ruimtelike beplanning proses moet toeganklik wees vir alle gemeenskappe om by te dra tot die ontwikkeling sodat die ekonomie bevorder word en moet die inkomste wat ’n munisipaliteit daaruit wil verkry, dringend aangespreek word aangesien ontwikkeling die hoeksteen van ’n munisipaliteit se integriteit en diensbaarheid teenoor ’n gemeenskap is.

Kategorie:

Deel dit:

Ontwikkeling vir ekonomiese groei gekniehalter